Mediaverklaring

20 April 2024

Sestien mense het Saterdag 20 April 2024 hul kwaste by Stokkiesdraai, by die Voortrekkermonument, uitgepak en doeke reggeskuif om by die meesterskilder, Elsa Cornellisen, iets oor die skaars vaardigheid van skilderkuns te leer.

Elsa Cornellisen is ’n bekende skilderkunstenaar. Sy is veral bekend vir haar ekspressiewe portretstudies, wildleweskilderye en simboliese realisme. Sy het haar graad in kuns aan die Universiteit van Pretoria in 1980 voltooi waarna sy eers klas gegee het, voordat sy haar voltyds aan skilderkuns begin wy het.

Dit is die eerste kunsslypskool wat die FAK se Kundramus vir 2024 aanbied. Kundramus staan vir die samekoms van kuns, drama en musiek.

Marize Möller, organiseerder van Kundramus, sê die FAK se doel met Kundramus is om die Afrikanerkunstenaar aan die wêreld bloot te stel, sy kuns met die wêreld te deel en om kunswaardering terug te bring.

“Kunsondderig is baie belangrik, veral onder jongmense. ’n Skildery is nie net ’n prentjie nie, dit is ’n hele denkproses. Elke skildery is ’n stukkie van die kunstenaar se siel en emosies op canvas,” sê Möller.

Cornellisen het begin deur die basiese kunsbeginsels van komposisie aan die deelnemers te verduidelik en daarna het hulle weggespring en iets geverf onder Cornellisen se leiding.

“Elsa is een van Kundramus se beste kunstenaars; sy het goue raad en ervaring om met mense te deel. Dis ook nie sommer elke dag wat jy by Elsa Cornelissen, ’n wêreldbekende kunstenaar, self kan klas kry nie. Gewoonlik is sulke aanbiedings slegs vir die elite en mense met geld, maar nou bring ons hierdie geleentheid na alle Afrikaners toe,” vertel Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK wat die geleentheid help organiseer.

Linda Dreyer is al ’n gesoute kunstenaar wat die geleentheid bygewoon het en sy is baie opgewonde oor die nuwe tegnieke wat sy geleer het. Daarteenoor is dit Isabella Coertzen se eerste keer wat sy met akriel werk en is ook baie beïndruk met wat sy leer.

In Augustus sal die bekende skilder Kobus Möller ook ’n kunsslypskool aanbied. Verder word daar ook slypskole in drama, musiek en ’n koeranteslypskool vanjaar aangebied.

“Dit is vir die FAK van kardinale belang dat ons hierdie besonderse deel van ons Afrikanerkultuur moet bevorder en sodanig ’n toekoms daarvan kan bou, maar ook verseker. Hierdie skep ook die geleentheid vir enige iemand daar buite om by ’n meester klas te kry en werklik te sien hoe om ’n toekoms uit kuns te kan maak,” sê Barry Muller, kultuurhoof van die FAK.

Jou vriendskap kan die FAK help om ons kultuuraanbod verder uit te brei: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/