“My vader was ‘n musikant was nog nooit tevore in soveel kreatiewe en opgewekte verwerkings gehoor soos Saterdag 11 Oktober in die AfriForum-teater in Pretoria nie. Hierdie FAK-volksliedjie was die tema van die negende jaarlikse Animato A Capella-sêrkompetisie se nasionale finaal en hoërskoolsanggroepe van reg oor die land het vir ’n fees van talentvolle stemme, styl en suiwer sang gesorg.

Bertha le Roux-Wahl, wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Emma in 7de Laan, was die seremoniemeester tydens die Animato A Capella-sêrkompetisie se nasionale finaal. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vir die vyfde agtereenvolgende jaar twee toekennings oorhandig vir die beste vertolking van ’n FAK-volksliedjie. Die lied wat skole vanjaar moes verwerk en uitvoer, was “My vader was ’n musikant”. Die FAK-toekenning vir die beste ensemble-vertolking is toegeken aan Potchefstroom Gimnasium se groep Pzazz, terwyl die FAK-toekenning vir die beste vertolking binne ’n produksie deur Hoërskool Zwartkop van Centurion se groep Zwacapellas verower is.

Die beoordelaars van die Animato A Capella-sêrkompetisie het ’n baie moeilike taak gehad. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Ons is baie trots om deel van hierdie eiesoortige kompetisie te wees, sê Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns-, taal- en musiekprojekte. “Die FAK se betrokkenheid by Animato bring ’n besonderse erfenisdimensie na die verhoog en die doel is om jongmense te inspireer om Afrikaanse volksmusiek en tradisionele liedere te herontdek en op ’n vars, moderne manier te verwerk. “Ons is trots daarop dat Afrikaanse volksliedere nie vergete is nie, maar danksy jong stemme opnuut opklink. Liedere soos ‘My vader was ’n musikant’ vertel van trots, ambisie en deursettingsvermoë – waardes wat steeds springlewendig is in hierdie nuwe geslag,” sê De Jager.

Die groep Pzazz van Potchefstroom Gimnasium lewer ’n meesterlike a capella-vertoning tydens die Animato A Capella-finaal in die AfriForum-teater. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die algehele wenners het die beoordelaars weggevoer, en was slegs ’n hanetreë voor die tweede en derde plekke. Pzazz van Potchefstroom Gimnasium het die toekenning vir die beste ensemble ontvang, en die Con Spirito-groep van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein het met die toekenning vir die beste produksie weggestap.

Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns-, taal- en musiekprojekte, oorhandig ’n toekenning aan Annemarie van der Westhuizen van die sanggroep Pzazz van Potchefstroom Gimnasium vir die beste verwerking van die FAK-liedjie ‘My vader was ‘n musikant’. (Foto: Du Preez de Villiers)

Kompetisie van gehalte, kreatiwiteit en passie Altesaam 14 skole landswyd het aan die kompetisie deelgeneem, waarvan nege groepe van agt skole na die finaal in die AfriForum-teater deurgedring het. “Die leerlinge oefen vir maande aan hul verwerkings,” vertel Zelmarie Maré, medestigter en een van die dryfkragte agter Animato A Capella. “In die laaste weke voor die kompetisie oefen sommige groepe letterlik die hele dag deur tot middernag.”

Die Zwacapellas van Hoërskool Zwartkop se uitvoering en kostuums met ’n Jedi-oefenkamptema, was ’n lus vir die oor en oog. (Foto: Du Preez de Villiers)

Droom wat uit ’n behoefte gebore is Animato A Capella is die geesteskind van ma en dogter Lizelle van Staden en Zelmarie Maré. Wat as ’n eenvoudige koorkompetisie vir jeugkore begin het, het mettertyd ontwikkel tot een van die mees dinamiese en innoverende platforms vir jong sangers in die land. “Animato was aanvanklik net ’n gewone koorkompetisie. Ons het egter gesien hoe gewild die universiteite se sêrkompetisies raak, en besef daar is ’n behoefte onder skoolkinders om iets soortgelyks te doen – iets wat meer beweeglik, kreatief en uitvoerend is. Nie almal wil net in ’n ry staan en sing nie. Hulle wil ook karakters wees, stories vertel en met ’n tema en humor werk,” vertel Maré.

Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns-, taal- en musiekprojekte, oorhandig ’n toekenning aan Kenan Stassen van die sanggroep Zwacapellas van Hoërskool Zwartkop in Centurion vir die beste verwerking van hulle produksie . (Foto: Du Preez de Villiers)

“Dis amper soos ’n mini-revue,” sê sy, “maar sonder enige musiekinstrumente. En die kinders is dol daaroor. Hulle kan op ’n kreatiewe manier hul stemme, uitdrukking en energie gebruik om ’n storie te vertel.” “Skole doen ongelooflike moeite met kostuums en verhoogelemente,” vertel Van Staden. “Baie van hulle kry selfs professionele hulp met musiekverwerkings, stemafrigting en regie. Ons het selfs afrigters wat jare gelede aan universiteitsêr deelgeneem het wat nou die jonger geslag help.”

Die algehele wenners vir die beste produksie was Con Spirito van C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Wanneer jy sien hoe kinders uit verskillende provinsies, agtergronde en skole saam op ’n verhoog sing, besef jy musiek is steeds een van die sterkste vorms van gemeenskapsbou,” sê De Jager. “En as hulle terselfdertyd trots kan wees op hulle taal en erfenis, dan het ons iets besonders bereik.”