Mediaverklaring

30 Mei 2024

Sanger en liedjieskrywer, en ambassadeur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Stefan Jansen, breek die rekord in die Afrikaanse musiekbedryf vir die grootste internasionale toer in Afrikaans.

Jansen toer vir 50 dae (7 weke) deur Nederland, waar hy 30 optredes doen en internasionale gehore vermaak met sy Afrikaanse musiek.

“Daar was nog nooit so groot internasionale toer in Afrikaans gedoen nie,” vertel Jansen. “Ek speel presies dieselfde program wat ek vir die FAK speel by ouetehuise. Nou reik ons ook uit na die buiteland. Dit is wonderlik om Afrikaanse musiek na mense toe te bring.”

Jansen vertel dat hy dit die meeste geniet om in die klein dorpies en landelike gebiede, net buite die groot stede soos Amsterdam, te speel.

“In die volksdorpies verstaan die mense Afrikaans, hulle kan die stories verstaan en daarmee identifiseer. In Friesland waar ek nou is, is dit ’n regte Boeregemeenskap. Ons stories is vir hulle pragtig.”

Jansen is tans in Friesland, ’n noordelike provinsie in Nederland. Volgens Jansen is Fries ’n Nederlandse dialek wat ook onderdruk word, soos Afrikaans. Hy sê dit is die verste provinsie van Suid-Afrika, maar seker die naaste gemeenskap aan Suid-Afrika wat kultuur betref.

“In hierdie toer vier ek al die mooi dinge van Afrikaans. Afrikaans is geliefd in die buiteland. Hier word ons gesien vir wie ons is: ’n lekker nasie, ’n mense-mense nasie. Ons Afrikaans-wees word gevier en dit maak my bitter trots om Afrikaans te wees,” sê Jansen.

Die FAK is veral trots op Jansen wat sy nuutste enkelsnit “Bella, Episode 1” onlangs vrygestel het. Jansen maak werklik sy merk in Afrikaans so op die vooraand van Afrikaans 100.

Jansen beskou homself as ’n volksmusiek-sanger.

“Daar is nou ’n fokus op ’n woordbeweging en Afrikaanse woordkuns. Afrikaans is besig om volwasse te word. Die tyd vir volksmusiek is nou.”

“Volksmusiek is inherent musiek oor die volk. En die volk is gewone mense. Ek wil liedjies skryf waarmee mense kan assosieer. Dit is my belegging in Afrikaanse volksmusiek,” sê Jansen.

Jansen kan toor met woorde en sy liedjie “Bella” is ’n bewys van Jansen se talent om ’n storie te vertel met sy musiek. In sy lirieke sien ons hoe die gewone mens aan die lig gebring word:

“Bella was ’n meisie van die plaas gewees, Bella met ’n hart van silwer. Bella het die boek van God gelees. Toe die lewe vir Bella wou breek, het die Here vir Bella gewys wat dit is om veilig te wees.”

Jansen vertel dat Bella geïnspireer is deur die oudste suster, maar dat sy eintlik enige iemand kan verteenwoordig.

“Ons almal ken ’n Bella. Die liedjie gaan oor die meisie wat gekonfronteer word met die slaggate van die lewe, en elke vers is ’n bewys van die Here se beskerming.”

Die FAK wens Jansen sterkte toe met sy reis en weet dat hy nog hoë hoogtes met sy musiekloopbaan sal bereik.

Jou vriendskap kan ons help om ons musiekerfenis te bewaar en te bevorder: www.fak.org.za