Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is vanaf 2026 ’n volwaardige borg en strategiese vennoot van alle afdelings van die Con Spirito Kunsvereniging. Hierdie uitgebreide betrokkenheid bou voort op jare se samewerking en bevestig die FAK se toewyding om die Afrikaanse kultuur onder die jeug te bevorder en ontwikkel.
Die FAK was voorheen slegs by sekere afdelings betrokke, maar speel voortaan ’n sentrale rol in die aanbieding van die volledige program. As hoofborg wil die FAK die gehalte en toeganklikheid van die kompetisies verder versterk.
“Ons betrokkenheid is ’n doelbewuste belegging in die toekoms van ons kultuur,” sê Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns, taal en musiek.
“Jongmense het geleenthede nodig om hul talente te ontwikkel, en Con Spirito bied presies daardie toeganklike gehalteplatform. Deur by die volle omvang van Con Spirito betrokke te wees, stel ons in staat om ’n nog groter verskil te maak. Van die ondersteuning van lokale tot die borg van sertifikate wil ons verseker dat elke deelnemer erkenning ontvang en dat uitnemendheid in Afrikaanse kultuur gevier word.”
Die Con Spirito Kunsvereniging, wat “kultuur met geesdrif” beteken, het 24 jaar gelede as ’n streekgebonde inisiatief aan die Oos-Rand in Gauteng begin, maar die afgelope agt jaar gegroei tot ’n nasionale platform met deelnemers uit al nege provinsies.
Die vereniging bied aan jong deelnemers die geleentheid om hul talente in verskeie kulturele dissiplines te ontdek, te ontwikkel en ten toon te stel. Enige kind of leerder van enige skool of instansie mag aan Con Spirito deelneem, en privaat inskrywings word ook aanvaar.
Vanjaar se kompetisie spog ook met nuwe afdelings, insluitend die Con Spirito Cantabile Kore en die Con Spirito Strumento Orkeste. Dit verryk die bestaande aanbod van die Con
Spirito-kunswedstryd (sedert 2002), Animato Sêr (sedert 2018) en Debat (sedert 2021), en skep ’n nog groter platform vir jong kunstenaars reg oor Suid-Afrika.
Con Spirito se impak spreek vanself. In 2025 is ongeveer 25 000 items landwyd ingeskryf, afkomstig van 627 skole. Van hierdie deelnemers is 30% na die nasionale rondte genooi.
Die finale rondte staan bekend as die “Forte”-rondte – ’n term wat beteken om groter met jou talente te gaan. Hierdie model verseker dat deelnemers geleidelik ontwikkel en blootstelling op nasionale vlak kry.
Provinsiale rondtes vind landwyd by verskillende lokale plaas. Die beste presteerders word daarna genooi om aan die einde van die jaar aan die nasionale rondte in Johannesburg deel te neem, waar die nasionale item- en afdelingswenners aangewys word.
Die Prestige-toekenningsgeleentheid, wat op 14 September plaasvind, bring topdeelnemers van reg oor die land byeen om hul prestasies te vier.
Die debatkompetisie bestaan op sy beurt uit drie rondtes. Die eerste rondte vind van Mei tot Julie plaas, die semifinale rondtes in September en die nasionale finaal in Oktober.
’n Unieke kenmerk van die Con Spirito-kunswedstryd is die kombinasie van ’n lewendige en aanlyn platform, wat deelname vir leerders uit verskillende geografiese en ekonomiese agtergronde moontlik maak. Deelnemers kan dus óf by ’n lokaal deelneem óf hul talent deur middel van ’n video ten toon stel.
“Die vennootskap tussen die FAK en Con Spirito versterk nie net die organisasies se gedeelde visie nie, maar dra ook by tot die volhoubare groei van kulturele deelname onder die Suid-Afrikaanse jeug. Dit bied ’n inklusiewe ruimte waar enige leerder – hetsy deur ’n skool, instansie of privaat inskrywing – kan deelneem en sy of haar volle potensiaal kan bereik.
“Met die FAK se borgskap betree Con Spirito ’n nuwe era van groei, geleenthede en uitnemendheid – ’n era waarin kultuur werklik met geesdrif gevier en uitgeleef word,” sê De Jager.





