Teatergangers in Gauteng kry binnekort weer die geleentheid om volgens egte tradisie hul mooi-moois aan te trek, en soos in die dae van ouds, Afrikaanse teater met al die nodige prag en praal by die Suid-Afrikaanse Staatsteater te beleef.
Die veelbesproke samewerkingsooreenkoms tussen die FAK en die Staatsteater skop op 23 September af met die première van As die tuig skawe, die eerste van agt Afrikaanse produksies wat deel vorm van ’n groter poging om volwaardige Afrikaanse teater weer sy regmatige plek in Suid-Afrika se bekendste teaterkompleks te laat inneem.
Hierdie besondere produksie val saam met ’n historiese mylpaal: dit is vanjaar presies ’n eeu gelede dat J.F.W. Grosskopf dié drama geskryf het. Die toneelstuk is in 1926 gepubliseer en het kort daarna aan Grosskopf die Hertzogprys vir Drama besorg. Dié erkenning het die werk as een van die belangrikste tekste in die geskiedenis van Afrikaanse teater gevestig.
Volgens literêre historici word As die tuig skawe steeds beskou as een van die mees geslaagde vroeë Afrikaanse dramas en as ’n werk wat gehelp het om die grondslag van ernstige Afrikaanse toneelkuns te lê. Die drama staan uit vanweë die wyse waarop dit die werklikheid van gewone mense se lewens, uitdagings en sosiale omstandighede eerlik en realisties uitbeeld. Die stuk word vandag steeds erken as ’n belangrike keerpunt in die ontwikkeling van Afrikaanse drama, toe dié genre werklik tot volwassenheid gekom het.
Die produksie, onder regie van Lara Lourens, word aangebied as deel van die FAK se visie om Afrikaanse kultuur, taal en kuns opnuut sigbaar te maak in openbare ruimtes. Die Staatsteater, wat vir dekades die tuiste van onvergeetlike Afrikaanse produksies was, vorm die ideale platform om hierdie herlewing te vier.
Die drama speel af in die moeilike jare ná die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse Griep. Duisende Afrikaners is destyds deur droogtes, swak oeste, armoede en ekonomiese onsekerheid getref. Hierdie maatskaplike werklikheid, wat later as die armblankevraagstuk bekend sou staan, vorm die agtergrond van die verhaal.
In die middel van die drama staan Gert en Krissie Obrien, vertolk deur Sallas de Jager en Lizelle Pike – ’n egpaar wie se huwelik onder die druk van armoede, teleurstellings en verlore drome begin verbrokkel. Die titel verwys na die bekende Afrikaanse uitdrukking “as die tuig skawe”, wat afkomstig is van trekdiere se harnasse wat begin skuur wanneer die las te swaar raak. Figuurlik beskryf dit mense wat onder buitengewone druk moet voortgaan terwyl emosionele en sosiale wonde al dieper word.
Wat As die tuig skawe besonder relevant maak, is die feit dat die temas van die drama vandag steeds aanklank vind. Dit handel oor waardigheid in moeilike tye, die druk wat ekonomiese swaarkry op gesinne plaas, die stryd om hoop te behou en die menslike behoefte aan begrip, vergifnis en tweede kanse.
Die nuwe verwerking deur Lara Lourens en The Third Law bring die oorspronklike verhaal na moderne gehore sonder om die historiese integriteit daarvan te verloor. Die akteurs vertolk karakters wat diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar terselfdertyd herkenbaar bly vir enige gehoorlid wat al teleurstelling, verlies, liefde of herstel beleef het.
Die ensemble-rolverdeling gee nuwe lewe aan Grosskopf se onvergeetlike karakters. Gert verteenwoordig die trotse, hardwerkende man wat deur omstandighede gekniehalter word; Krissie beliggaam die emosionele tol wat armoede en onsekerheid op gesinne plaas; terwyl karakters soos Fred (Kaz McFadden), Lizzie (Jenna Volschenk), Marie (Kristin Naudé), Teuns (Christo Beer) en Tommie (Luan Maartens) elk ’n unieke perspektief op die gemeenskap en tydsgees van die 1920’s bied. Deur hul vertolkings word ’n era herskep waarin mense moes leer om tussen verlies en hoop te oorleef.
Die produksie beklemtoon ook Grosskopf se vernuwende gebruik van realistiese dialoog. Sy karakters praat soos gewone mense van hul tyd, wat die verhaal geloofwaardig en menslik maak. Hierdie sosiale realisme het ’n groot invloed op latere Afrikaanse dramaturge uitgeoefen en die weg gebaan vir talle dramatiese meesterwerke wat sou volg.
Vir die FAK is hierdie produksie meer as bloot ’n teateropvoering. Dit is die eerste tree in ’n groter strategie om Afrikaanse gehore weer na die middestad van Pretoria te nooi en om die Staatsteater opnuut as ’n tuiste vir Afrikaanse verhoogkuns te vestig.
“Met As die tuig skawe bring ons nie net ’n klassieke teks terug nie; ons herstel ook ’n verbinding tussen ons kultuurerfenis, ons kunstenaars en ons gemeenskappe. Hierdie produksie herinner ons daaraan dat goeie stories tydloos is en dat die verhoog steeds ’n plek is waar ons onsself kan herken,” sê Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof: taal, kuns en musiek. De Jager vertolk ook die rol van Gert.
Die première van As die tuig skawe vind op 23 September by die Suid-Afrikaanse Staatsteater plaas en lui die begin in van ’n opwindende nuwe hoofstuk vir Afrikaanse teater in Suid-Afrika.
Kaartjies vir As die tuig skawe is beskikbaar by webtickets en is op 23, 24, 26 en 27 September 2026 in die Arena by die Staatsteater te sien






