Mediaverklaring

2 Junie 2023

Op 2 Junie 2023 is die Kundramus-kunsgalery in samewerking met die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) amptelik by die Voortrekkermonument tydens ’n spogfunksie geopen.

“Kundramus staan vir die samekoms van kuns, drama en musiek. Dit is presies wat vanaand hier gebeur. Die Voortrekkermonument is nie ’n dooie gebou nie, maar ’n plek waar kuns gevier word.” So sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Antonis Mandritis, hoë kommisaris van Siprus, het ook die geleentheid bygewoon en is tydens die opening van die aand spesiaal deur dr. Langner verwelkom.

“Ek het ’n groot belangstelling in die FAK, Afrikanergeskiedenis en -kultuur,” vertel Mandritis. “Die mense, die atmosfeer, die kuns – alles hier is net ongelooflik.”

Tydens hierdie geleentheid het groot name soos Piet Smit en Johan Scholtz opgetree. Groot kunstenaars soos Gerrit Pitout en Kobus Möller stal onder andere ook hul spogwerke in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal uit.

“Om by die Voortrekkermonument uit te stal, het gekom as ’n wonderwerk van bo met die hulp van dr. Danie Langner en Kobus Möller. Dit is ’n geweldige positiewe geleentheid vir ons kunstenaars,” vertel Gerrit Pitout.

Die Voortrekkermonument het ’n jaar gelede ses groot skildery by Pitout gekoop wat tans in die Vrijheidsreisuitstalling uitgestal word.

Pitout beklemtoon sy waardering vir die geleentheid. “Die moontlikheid om ’n skildery te verkoop, is nou baie groter as voorheen. Ek glo ons uitstalling gaan net groei van hier af.”

Volgens Möller gee dit hom nuwe motivering om by die Voortrekkermonument uit te stal. “Dit is seker die mees fenomenale gebou om by uit te stal in Suid-Afrika.”

“Kunswaarderingkultuur het oor die jare verbrokkkel,” vertel Möller verder. “Op ’n stadium was daar in elke dorp ten minste twee kunsgalerye. Hartbeespoortdam was byvoorbeeld dié kunsdorp en vandag weet ek nie meer of daar nog een galery bestaan nie.”

Volgens Marize Möller, dogter van die kunstenaar Kobus Möller en organiseerder van Kundramus, het daar voor die aanvang van die geleentheid reeds ses skilderye en een beeld verkoop.

Die kunsuitstalling is oop vir die publiek om enige dag van die week te besoek.