Mediaverklaring

29 Maart 2023

 

FAK gee nuwe tuiste en trots vir klassieke musiek in die hoofstad van Suid-Afrika

 

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gee klassieke musiek nuwe asem in die Jakarandastad. Die Pretoriasimfonieorkes het vir die eerste keer in die geskiedenis in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument opgetree en honderde mense het na hierdie uitvoering gestroom.

Die musiek van GF Händel se Messias het deur die monument weerklink en die goue stemme van die Canendo Project Choir het die Simfonieorkes vergesel.

“Die atmosfeer wat die Senotaafsaal skep, het hierdie geleentheid waarlik besonders gemaak. Die akoestiek van die koor en orkes wat van onder af boontoe weergalm, maak uitvoerings soos dié uniek,” sê Jaco van Staden die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling.

Die dirigent van die Pretoria Simfonieorkes, Braam van Tonder, is dit eens.

Van Tonder sê: “Die akoestiek in die monument het die stuk wat ons opgevoer het, baie mooi beklemtoon wat uniek is teenoor ander opvoerings wat ons al gedoen het.”

Musiek is die hartklop van die Afrikanerkultuur en moet bevorder word. Ons liefde vir klassieke musiek kom van ons Europese voorouers en Suid-Afrikaanse musikante het nie altyd op plaaslike grond die nodige geleenthede om só ’n loopbaan uit te leef nie.

Van Tonder gaan voort en sê: “Ons het ongelooflike talent hier in Suid-Afrika, maar soveel musici gaan Europa of Amerika toe. As ons meer geleenthede soos dié aanbied, hou ons professionele musici in Suid-Afrika. So vir my was hierdie konsert ’n groot hoogtepunt, want as ons konserte van hierdie kaliber kan uitbou tot ons eie unieke Suid-Afrikaanse karakter, is dit nie nodig vir mense om oorsee te gaan om ’n musiekloopbaan na te streef nie.”

“Ek het hierdie uitvoering van die Messias besonder geniet. Die simfonieorkes, die koor en die soliste se optrede was uitsonderlik en die kwaliteit van die klank was uitstekend. Ek het dit regtig geniet,” het een van die konsertbywoners, Leon Pretorius, gesê.

“Mense ontdek dat die monument ’n tuiste is waar hierdie tipe uitvoerings toeganklik is,” sê Van Staden. “Die opkoms van hierdie konsert bevestig dat die publiek uitgehonger is vir hoëstandaard klassieke uitvoerings.

Dit was ook opvallend dat die jeug en selfs kinders hierdie uitvoering besonders geniet het.

Anaïs van Huyssteen (8), kon nie uitgepraat raak oor hoe lekker die konsert vir haar was nie.