Inskrywings vir die FAK se gewilde jaarlikse Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade het vandag geopen en vanjaar se projek beloof om die grootste tot nog toe te wees. Met ’n verfynde struktuur, groter internasionale deelname en diepgaande leergeleenthede vir kinders wêreldwyd, word ’n selfs sterker klem op die belangrikheid van kennis, erfenis en geskiedenis as boustene vir jongmense se identiteit geplaas.
“Geskiedenis is veel meer as net datums, feite en eksamenvraestelle,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Dit is ’n sleutel tot behoort, rigting en selfvertroue. Internasionale navorsing toon keer op keer dat kinders wat hul eie kulturele en geskiedenisverhaal ken, ’n sterker identiteit ontwikkel en beter toegerus is om hul plek in die wêreld met sekerheid in te neem. Dit is teen hierdie agtergrond dat die FAK-Geskiedenisolimpiade ’n unieke rol speel: om Afrikanerkinders, waar hulle hulself tans ook al bevind, weer toegang tot hul eie verhaal te gee – ’n verhaal wat dikwels verwater word of selfs uit die geskiedenisboeke verdwyn.
“Vir ’n kind is geskiedenis ’n spieël waarin hy leer om homself te herken, ’n kompas wat rigting gee, en ’n anker in ’n wêreld wat toenemend onseker en ontwortel voel. Wanneer kinders hul geskiedenis leer, ontdek hulle nie net feite nie – hulle ontdek hulself. ’n Gesonde identiteit begin met ’n begrip van waar jy vandaan kom, watter waardes jou gevorm het en hoekom jou erfenis betekenis dra,” sê Langner.
Geskiedenis sonder skaamte, maar met begrip
Volgens Barry Müller, FAK se nasionale hoof van gemeenskap-, geskiedenis- en ad hoc-projekte, leer kinders deur die FAK-Geskiedenisolimpiade om die Afrikanergeskiedenis nie as ’n las van skuld of ’n bron van skaamte te sien nie, maar as ’n ryk erfenis van geloof, deursettingsvermoë en menslike diepte. “Dit is ’n verhaal van toekomsbou en volharding – van mense wat te midde van uitdagings standvastig gebly het om ’n toekoms vir hul nageslag te verseker.”
Volgens Müller is die Olimpiade gewortel in die woorde van Paul Kruger se laaste boodskap in 1904: dat ’n volk wat sy toekoms wil bou, nie sy verlede mag ignoreer nie. “Die FAK sien hierdie ingesteldheid as die grondslag vir die projek – om eerlik, gebalanseerd en volwasse na die geskiedenis te kyk.”

Verlede jaar se wenners van die FAK se Geskiedenisolimpiade was Daniel de Bruin, ’n graad 4-leerling van Laerskool Middelburg; en Nicole White, ’n graad 11-leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK, staan links van hulle. (Foto: Du Preez de Villiers)
Die grootste jaar nóg
Danksy ’n samewerkingsooreenkoms met die Beweging vir Christelik‑Volkseie Onderwys (BCVO) het die projek aansienlik uitgebrei. Waar leerders voorheen die twee rondtes tuis geskryf het, een om die provinsiale wenners en een om die nasionale wenners aan te wys, gaan die tweede rondte vanjaar in persoon in ’n lokaal geskryf word. Daar is reeds 15 lokale landwyd geïdentifiseer, ten minste een in elke provinsie, en die lokale gaan ook digitaal met mekaar verbind wees.
Elke graadvlak fokus op ’n kernperiode van die Afrikanergeskiedenis, en leerders wat jaar ná jaar deelneem, voltooi uiteindelik matriek met ’n goed gestruktureerde en samehangende begrip van hul geskiedenis.
Erkenning strek verder as net leerders: skole word ook beloon vir hul betrokkenheid. Kontantpryse, sertifikate, balkies en wydverspreide erkenning wag op deelnemers.
Kinders van reg oor die wêreld kan deelneem. Alle deelnemers skryf dieselfde Moodle‑gebaseerde toets, wat verseker dat elke leerder gelyke geleenthede het, ongeag waar hulle woon.
Belangrik om te weet
- Inskrywings open: 2 Februarie 2026
- Koste: Gratis
- Graadvlakke: Graad 4–12
- Handleidings: Word ná inskrywing voorsien
Ouers word aangemoedig om hul kinders vroegtydig in te skryf, om hulle meer tyd te gee om vir die eerste rondte voor te berei.
Belegging in selfvertroue en toekomsvisie
Müller beklemtoon dat die voordeel van deelname veel verder strek as net akademiese kennis. “Kinders wat hul geskiedenis verstaan, weet wie hulle is, waar hulle inpas en hoekom hul kultuur en taal waarde het. Die Olimpiade bou nie net kennis nie, dit bou karakter.
“Die 2026‑FAK Internasionale Geskiedenisolimpiade is daarom nie net ’n kompetisie nie, maar ’n belegging in identiteit, waarheid en toekomsvertroue. Dit is ’n móét vir elke Afrikanerkind, sodat elkeen van ons, met kennis en nederigheid, steeds trots kan wees op wie ons is.”
Vir meer inligting, stuur ’n e‑pos na [email protected] of skakel +27 12 301 1777.
