Mediaverklaring

26 Junie 2023

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke het op 24 Junie ’n skyngeveg op Udolpho Rivierplaas net buite Parys in die Vrystaat aangebied. Dié skyngeveg is ter herdenking van die Slag van Paardeberg, wat tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) plaasgevind het en bekend is as ’n groot nederlaag vir die Boerekommando.

“Hierdie geveg is nog nooit in die 123 jaar van die gebeurtenis herdenk nie,” verduidelik Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder Sentraal van die FAK. “Ons wil graag onbekende en ongewilde veldslae uitvoer en so vir mense die geskiedenis leer.”

Die FAK se Vaal- en Parys-Kultuurnetwerke het, tesame met die Dundee Diehards en die Gideonsbende, die gebeure van die Slag van Paardeberg opgevoer, waar meer as 200 mense saamgedrom het om die skyngeveg te besigtig en aan deel te neem.

Tydens die ABO is Kimberley deur die Britse mag in beslag geneem. Generaal Piet Cronjé is getaak om die Britte te stuit. Hy wou egter nie die vroue en kinders agterlaat nie en dit het die trek gerem. Op 18 Februarie 1900 het die trek in ’n dip kamp opgeslaan. Selfs na generaal De Wet se waarskuwings, het Cronjé nie die vroue en kinders agtergelaat nie.

Die Royal Canadian Regiment van 13 000 soldate het hierdie geselskap vasgekeer en vir 9 dae lank vasgekeer gehou. Die Boerekommando kon die regiment met hul mausers op ’n afstand hou, maar die Britte het beskik oor 100 kanonne, waar die kommando slegs vyf gehad het. Die kommando is tot oorgawe geforseer.

Die skyngeveg het vier gebeure rondom hierdie slag uitgebeeld.

Die bekende spioen, Danie Theron, het juis met hierdie slag sy naam gemaak. Theron het deur die hele Britse mag beweeg en het twee keer boodskappe tussen genl. Cronjé en genl. De Wet vervoer. Dit is een toneel wat met groot opwinding opgevoer is. Verder is die Engelse stormlope op die kommando ook uitgebeeld, asook die uiteindelike oorgawe van die kommando. Laastens is ook ’n Blokhuis-dryfjag op genl. De Wet uitgevoer, waar derduisende Britte die sogenaamde dapper genl. De Wet probeer stuit het.

Die skyngeveg is met sukses uitgevoer en het die toeskouers op die punte van hul stoele gehou.

“Jy besef eers, wanneer jy self in die veld is en daar word geskiet op jou en dit self ervaar, dan word geskiedenis lewendig. Geskiedenis word lewendig op hierdie terrein en ons waardeer dit ongelooflik dat mense soveel tyd en energie spandeer om regtig weer geskiedenis lewend te maak,” sê Sam Scott, wat deelgeneem het aan die uitvoering.

“Wat ’n besondere dag. Julle is met ’n baie mooi ding besig,” sê ds. Ian Jonker, die plaaslike dominee by NG Parys-Oos.

Malan sê: “Die voorstelling van hierdie geveg laat ons terugdink aan ’n tyd toe swaarkry en doodslag ons land besoek het. Ons besef nie die swaarkry van ons voorouers nie. Hierdie geveg word nie herdenk nie, want dit word gesien as een van die grootste nederlae van die ABO, maar ons is hier om die storie te vertel, want selfs al het ons verloor, is dit ook deel van die geskiedenis.”

Daar word beoog om volgende kwartaal weer so ’n skyngeveg aan te bied. Die publiek is welkom om dit in die toekoms by te woon. Verblyf is beskikbaar op Udolpho-Rivierplaas.

Indien die publiek graag nuus wil ontvang van soortgelyke gebeure in die toekoms, kan hulle kontak maak met besprekings@kultuurtuiste.org.za om die FAK se weeklikse nuusbrief te ontvang. Hierdie projekte, asook vele ander, is moontlik met die deurgaande ondersteuning van die vriende van die FAK.