Mediaverklaring

22 November 2023

Tuiste, trots, toekoms.

Met só ’n leuse vloei rentmeesterskap en kulturele ambassadeurskap van nature uit die alledaagse werk en handel van ’n kultuurorganisasie. Juis daarom het die FAK besluit om nóg ’n monument in Parys te herstel.

Voor die munisipale gebou in dié dorp in die Vrystaat, staan ’n senotaaf wat hulde bring aan soldate wat tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gesneuwel het. Daarby is ook standbeelde van die twee seuns van Parys wat gesterf het in Angola tydens die Grensoorlog.

Laasgenoemde was op ’n bronsplaat wat al ’n geruime tyd terug verdwyn het. Weens die hoë waarde van brons word daar vermoed dat hierdie plaat gesteel is.

Vir die FAK, asook die MOTH-vereeniging (Memorable Order of Tin Hats) wat ons in hierdie projek ondersteun het, is dit noodsaaklik dat die geskiedenis behoue moet bly en sorg met dié projek en talle soos hierdie dat erfenis bewaar word. In Parys se kenmerklike pienk graniet, word dié seuns, JHC Mostert en PJ Geel, weer opnuut verewig en in ons harte onthou.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK se kultuurnetwerk in die sentrale steke, sê die FAK sal bewaar, herdenk, onthou en opbou.

“Waar afgebreek en besteel word, daar sal die FAK wees en ons erfenis ten beste bewaar. Ons gaan die toekoms kop omhoog tegemoet met ’n fakkel om lig te werp op wat ons doen vir ons kinders se kinders,” sê Malan.

Johan de Vries behoort aan verskeie weermag- en kultuurorganisasies en is ’n oudkorporaal van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). De Vries beskryf die projek as ’n eer en hy sê dat hy “dankbaar is om die werk te kon doen en die twee seuns weer op hul plek kon plaas.”

Die FAK bedank Chris Greef, ’n oudskolier van Parys Hoërskool, wat die pienk granietplaat geskenk het. Te midde van ons eie mense kan ons helde vind wat steeds hul kulturele erfenis lief het.