Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se voetspoor in die Oos-Vrystaat het ’n reuse-hupstoot gekry met die aanstelling van Lieandri Ackermann as kultuurnetwerkkoördineerder vir die Sentrale streek. Lieandri, wat reeds meer as vyf jaar vir die FAK by die Voortrekkermonument werk, betree ’n nuwe hoofstuk in haar lewe – persoonlik én professioneel – wanneer sy met Gerrit Rossouw in die huwelik tree en haar in Ficksburg vestig.

In haar nuwe rol bring Ackermann nie net haar ervaring nie, maar ook ’n diep liefde vir kultuur, geskiedenis en gemeenskapsbou. Sy sal in een van Ficksburg se historiese pastoriehuise woon – ’n gepaste tuiste vir iemand wat daagliks by erfenis betrokke is.

“Ek sien baie uit na my nuwe werk en beoog om as skakel tussen die FAK en die gemeenskap te dien,” vertel Ackermann entoesiasties. “Ek moedig gemeenskappe aan om my oor hul projekte in te lig, en dan kan die FAK ondersoek instel oor hoe ons betrokke kan raak. Indien daar byvoorbeeld permitaansoeke nodig is om ’n konsentrasiekampterrein of ’n ander erfenisterrein te herstel, het ons die kundige hulpbronne om die regte advies te verskaf.”

Ackermann sal toesig hou oor die hele Vrystaat, asook Potchefstroom en Klerksdorp. Hoewel die hoofbasis van FAK-Sentraal steeds by die FAK-Udolpho-Rivierplaas buite Parys bly, bring haar teenwoordigheid in die Oos-Vrystaat gemeenskappe selfs nader aan ondersteuning en kundigheid.

Haar rol behels meer as administrasie; sy neem aktief deel aan gemeenskapsprojekte en bied hulp en strategiese raad soos nodig. “Ons wil ’n tuiste en heenkome vir mense skep rakende hul taal- en geskiedenisbehoeftes. Die FAK is daar om hande te vat en saam te bou,” sê sy.

Met die begrip dat die jeug die toekoms is, plaas die FAK ’n besondere fokus op skole. Talle skoleprojekte, soos debatvoering, voordrag, kooruitvoerings en kultuuraande, word reeds reg oor die land ondersteun, en slypskole word aangebied om Afrikanerkinders te bemagtig. Daarom gaan Ackermann haar ook toespits op die bevordering van gehalte kuns-, taal-, kultuur- en geskiedenisgerigte projekte en sy sien daarna uit om nuwe inisiatiewe in die Oos-Vrystaat te help ontgin.

Verder is sy getaak om erfenisterreine teen verval te beskerm. Wanneer die publiek kwessies aan die lig bring, kan die FAK kundige hulp aanbied. Die organisasie help ook met finansieringsaansoeke en kan ondersteuning bied om permitte vinniger uitgereik te kry wanneer historiese items wat deur verval bedreig word, bewaar of verskuif moet word.

Een van haar opwindendste planne is om elke maand op ’n ander dorp in haar streek te fokus. Sy beoog om die bakens, geskiedenis, uitdagings én interessante stories van hierdie dorpe op sosiale media te deel. Só hoop sy om nie net trots te kweek nie, maar ook groter bewustheid oor plaaslike erfenis te skep.

Vir diegene wat belangstel om ’n Vriend van die FAK te word, of wat die KultuurKafee se produkte wil bemark, is Ackermann die streek se kontakpersoon. Sy glo vas dat volhoubare kultuurwerk slegs moontlik is wanneer gemeenskappe aktief deelneem en eienaarskap neem.

Met haar voete in die Oos-Vrystaat se vrugbare grond en ’n diep liefde vir kultuur, is Ackermann gereed om brûe tussen gemeenskappe en die FAK te bou. Haar aanstelling beloof om ’n nuwe bries te wees wat hoop, samewerking en trots oor die hele Sentrale streek sal bring.