Die FAK-Jeugsimfonieorkes het op Sondag 26 April saam met die Pretoria Simfonieorkes (PSO) ’n uitsonderlike musikale belewenis gelewer tydens die Tutti-konsert in die ZK Matthews-saal by Unisa. Onder leiding van dirigent Jaco van Staden was die konsert ’n kragtige viering van musikale uitnemendheid.
Die titel Tutti – Italiaans vir “almal” of “saam” – het die wese van die konsert treffend vasgevang. Dit was meer as ’n uitvoering; dit was ’n gedeelde ervaring waarin elke instrument en elke musikant bygedra het tot ’n ryk samehangende klanklandskap.
Die eerste helfte van die program het die FAK-Jeugsimfonieorkes in die kollig geplaas en hul groei, dissipline en musikale volwassenheid beklemtoon. Werke van meesters soos Joseph Haydn, Gabriel Fauré en Ludwig van Beethoven is met selfvertroue en finesse vertolk. Hoogtepunte het ingesluit Leroy Anderson se Trumpeter’s Lullaby, met Sebastian Boonzaier as solis, asook die speelse “If I were a rich man” uit Fiddler on the Roof. Johannes Brahms se energieke Hungarian Dance No. 5 het die eerste helfte op ’n hoogtepunt afgesluit.
In die tweede helfte het die ware betekenis van tutti gestalte gekry toe die PSO en die FAK-Jeugsimfonieorkes saam op die verhoog verskyn het. Hierdie samewerking tussen ervare en jong musikante het nie net ’n voller klank geskep nie, maar ook ’n simboliese brug tussen generasies gevorm. Uittreksels uit Pyotr Ilyich Tchaikovsky se The Nutcracker Suite en Max Bruch se Violin Concerto No. 1, met Meldt van der Spuy, medekonsertmeester van die FAK-Jeugsimfonieorkes as solis, het die gehoor bekoor met emosionele diepte en tegniese briljantheid.
Die slotgedeelte, uitgevoer deur die PSO, het werke van Anatoly Lyadov en Wolfgang Amadeus Mozart ingesluit. Lyadov se 8 Russian Folk Songs het met kleur en karakter geskitter, terwyl Mozart se Symphony No. 35 (“Haffner”) die konsert energiek en verfynd afgesluit het.
Hierdie konsert was ’n besondere mylpaal vir die FAK-Jeugsimfonieorkes, wat slegs vier jaar oud is en reeds ‘n noemenswaardige rol speel in die ontwikkeling van jong musikante in Suid-Afrika. Dit was hul tweede optrede van die 2026-seisoen en volg op ’n suksesvolle uitvoering vroeër vanjaar van Franco Prinsloo se Karoo Kunslied in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument. Met ’n beplande Limpopo-toer later vanjaar, wag daar nog talle opwindende geleenthede vir hierdie dinamiese ensemble.
Volgens dirigent Jaco van Staden gaan Tutti oor meer as net ’n gesamentlike uitvoering. “Dit gaan oor luister en die bereidheid om jou eie stem deel van iets groter te maak. Wat ons beleef het, was ’n ontmoeting tussen generasies –’n klank wat niemand alleen sou kon bereik nie.”
Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns, taal en musiek, beklemtoon die waarde van samewerking. “Hierdie konsert wys dat die toekoms van ons kunste in sameklank lê. Wanneer jong talent saam met gevestigde musikante werk, vind daar nie net vaardigheidsoordrag plaas nie, maar ook die oordrag van passie en toewyding.”



