“Die naweek se musiekprogram was van uitsonderlike gehalte.” Só sê Dawid Oelofse, die voorsitter van Oog-Klassiek, en bevestig hoekom die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Jeugsimfonieorkes (JSO) as een van Suid-Afrika se mees belowende jong klassieke groepe beskou word.

Die JSO het van Vrydag 3 Oktober tot Maandag 6 Oktober by Die Oog Aftree-Landgoed in die Waterberge, Limpopo, gebly en opgetree – voorwaar ’n naweek vol musiek, vriendskap en nuwe herinneringe.

Volgens Oelofse was die program wat deur die dirigent, Jaco van Staden, saamgestel is, puik. “Daar was verskillende instrumente, ’n solo, uiteenlopende musiekstyle en -tydperke, en genoeg kopswaai en voettikritme om almal aan te steek. Die vertellings deur Van Staden voor elke item was ook voortreflik,” sê Oelofse.

Hy beskryf die orkeslede as “ware ambassadeurs – nie net vir die JSO nie, maar ook vir hul onderskeie skole”. So groot was sy waardering dat hy die orkes sommer dadelik vir volgende jaar genooi het.

Van Staden vertel dat die kamp vir hom en die jong orkeslede ’n besonderse ervaring was. “Die mense wat ons ontvang het, was ongelooflik vriendelik; van die fasiliteite tot die gasvryheid was van uitstaande gehalte. Die kinders het dit vreeslik baie geniet,” sê hy.

Die orkes het oor die naweek twee konserte gehou. Saterdag was die konsert by Die Oog-oord self, en die tweede een was op Sondag by die Gereformeerde Kerk Waterberg – ’n gebou wat in 1929 deur die bekende argitek Gerard Moerdijk ontwerp is.

“Albei konserte was ’n groot sukses,” vertel Van Staden. “Ons het ’n 45-minute program aangebied wat gewissel het van Johann Strauss se ‘Pizzicato Polka’ tot ‘Eine Kleine Nichtmusik’ van Peter Schickele, asook Béla Bartók se ‘Roemeense Volksdanse’. Die gehoor het uit volle bors saamgesing toe ons afsluit met verwerkings van ‘Sarie Marais’ en ‘Suikerbossie’.”

Van Staden meen dat die ervaring nie net musikale groei vir die orkes gebring het nie, maar ook ’n sterker band tussen die lede gesmee het. “Die JSO het homself verder vernuwe en ontwikkel deur gehore in Limpopo te bereik. Die kameraderie onder die lede het gegroei, en die musikaliteit wat uit hierdie jong groep kom, is van ongelooflike hoë gehalte – veral as ’n mens dink dit is nog skoolkinders,” sê hy trots.

“Hierdie kinders is nie net ambassadeurs van hul skole nie, maar ook van die FAK. Deur hierdie orkes word die naam van die FAK, asook van die klassieke musiekkultuur in die breë, uitgebou.”

Vir die lede self was die naweek vol spesiale oomblikke. “Die FAK is my mense – soos ’n familie,” sê Sebastian Boonzaier, ’n 17-jarige trompetspeler. “Die kamp was fantasties en die oord was baie cool. Nou kan ek ook sê ek het ’n krokodil vasgehou!”

Bianke van Staden (15) vertel dat haar hoogtepunt was om te sien hoe diep hul musiek mense raak. “’n Paar tannies het ná die konsert in trane na my toe gekom en gesê hoe bevoorreg hulle voel en hoe baie hulle dit geniet het. Om te weet ons het iemand so gelukkig gemaak, beteken die wêreld vir my.”

Vir Carmen Saayman (17), altviool-seksieleier, was die toer ’n herinnering wat sy altyd sal koester. “Hierdie toer het onvergeetlike oomblikke in my hart geskep. Dit was heerlik om dorpe in die platteland te besoek en musiek te bring aan mense wat nie altyd die voorreg het om dit te hoor nie.”

Lieandri Ackermann, projekbeampte: skole, musiek en kuns van die FAK, het haar opregte dank uitgespreek: “Ons sê baie dankie aan ons gasheer, Dawid Oelofse, vir al sy puik reëlings. Asook vir sy span en die gaste-ouers. Ons het geëet tot ons lê en is uit ons sokkies uit bederf, net soos ’n regte Ouma en Oupa kan. Die Oog Aftree-Landgoed het baie diep in ons orkesfamilie se harte ingekruip.”