Mediaverklaring

21 Maart 2024

12 musikante kry vanjaar die geleentheid om hul talent aan die wêreld voor te stel.

Vanjaar het die orkeslede by die FAK Jeugsimfonieorkes aangesluit en sal onder leiding van Jaco van Staden, die FAK Jeugsimfonieorkes se orkesdirigent, hul musikale talente kan ontwikkel. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se orkes het maar ’n jaar gelede sy debuut gemaak en groei net van krag tot krag.

Nie net kry die orkeslede die geleentheid om deel te wees van hierdie orkes nie, maar kry die geleentheid om onder meer in die Voortrekkermonument te kan optree, asook om saam met hul mede-orkeslede op reis te gaan.

Die orkes bestaan tans uit 22 lede, 11 blaasinstrumente en 11 strykinstrumente. Die FAK is ook trots om vanjaar vir die eerste keer ’n fagotspeler deel van die orkes te hê, Mynhardt van der Watt (16).

Meer as 200 konsertgangers het gisteraand (20 Maart 2024) Voortrekkermonument toe gestroom om die eerste amptelike FAK Jeugsimfonieorkeskonsert van 2024 te aanskou.

Die hooftema van die konsert, “Eine Kleine Nichtmusik” het ver en wyd opspraak gemaak.

“Nee, ‘Eine Kleine Nichtmusik’ is nie ’n fout nie. Dit is ’n werk wat verwerker Peter Schickele geskep het in 1966, waar hy Mozart se bekende ‘Eine Kleine Nachtmusik’ in sy oorspronklike vorm gebruik en baie ander temas en wysies vir die blaasinstrumente ingewerk het.”

Só verduidelik Van Staden die herkoms van die naam wat voorkom of dit verkeerd gespel word.

“‘Eine Klein Nichtmusik’ beteken dan eintlik ’n bietjie ‘niksmusiek’, of ‘sommer maar net musiek’, waar die strykers die oorspronklike stuk speel en die blaasinstrumente verskeie ander temas inwerk,” sê Van Staden.

Werklik het hierdie melodieë die siel se snare gestreel en het Van Staden selfs ’n geliefde volkslied ingesluit. Die klanke van “Sarie Marais” het ook deur die koepels van die Voortrekkermonument weerklink.

“Hierdie werk word so min gehoor. Ons het ’n poging aangewend om te kyk wat is daar wat ons kan doen om hierdie werk opwindend te maak; om vir die gehoor ’n ander ervaring te gee van klassieke musiek,” sê Van Staden.

Die program van hierdie konsert het vele ander bekende ander orkeswerke ingesluit soos Bizet se L’Arlesienne Suite no. 2, Haydn se Simfonie no. 83, Albéniz se Asturias, die Sweedse Rapsodie van Alfven en Mozart se “Sleigh Ride”.

Charmilé Strauss is aangewys as die nuwe orkesmeester van die FAK Jeugsimfonieorkes en is van mening dat hierdie konsert vir al die spelers ’n hoogtepunt was.

“Die eerste konsert saam is seker een van die mees opwindendste dinge. Die eerste konsert van die jaar is dié wat ek die meeste onthou. Wat vir my ongelooflik was, is die gehoor se reaksie teenoor die orkes. Hulle het dit regtig geniet,” sê Strauss.

Strauss het ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor Van Staden en dat dit vir haar ’n eer is om saam met een van Suid-Afrika se mees talentvolle orkesdirigente te kan werk.

Die konsert is voorafgegaan deur die Affies Strykkwartet, asook die Koperblaaskwintet van Afrikaans Hoër Meisieskool, wat beide twee werke uitgevoer het. Die FAK bied vir alle jong musikusse ’n platform om ook met húl talent te spog.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, beskryf die konsert as “’n ouditoriese verblyding van die siel”.

“Dit warm die hart om te sien hoe die jeug van vandag hulleself met trots kultureel kan uitleef en so ook bou aan die toekoms van klassieke musiek in ons land. Die musiek deur die FAK Jeugsimfonieorkes het die gehoor op ’n klassieke reis geneem deur die tye heen en emosies ontlont oor die dae van ouds. Die musiek het die konsertgangers in vervoering gehad,” sê Müller.

Van Staden en die FAK neem die inisiatief om klassieke musiek onder die jeug te bevorder en te ontwikkel. Deur so tipe platvorm te skep vir die uitvoerende kunste help om die volhoubaarheid daarvan in die gemeenskap te vestig.

Hierdie bevordering kan met trots uitgevoer word, deur die volhoubare ondersteuning van die gemeenskap. Donasies vir projekte soos dié word verwelkom en vriende van die FAK kan volhoubare ontwikkeling verseker deur maandeliks ’n klein bydrae te maak.

Besoek gerus www.fak.org.za vir meer inligting.