Die FAK-Jeugsimfonieorkes het op Vrydag 16 Oktober sy jaarlikse gala-aand in die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument aangebied. Dié geleentheid is ’n hoogtepunt op die orkes se jaarprogram en bied aan die jong musikante die geleentheid om die vrugte van ’n jaar se harde werk, toewyding en musikale ontwikkeling ten toon te stel.
Familielede, vriende, ondersteuners en eregaste het die aand bygewoon om die orkeslede se vordering te beleef en saam met hulle ’n besonderse musikale mylpaal te vier. Die aand het ook erkenning gegee aan die individuele bydraes van die musikante deur die oorhandiging van sertifikate en toekennings.
Die Jeugsimfonieorkes kan met trots terugkyk op verskeie hoogtepunte gedurende die jaar. Hulle het die jaar in Maart afgeskop met ’n uitvoering in die Senotaafsaal waartydens hulle die voorprogram vir Karoo Kunslied gelewer het. In April het die orkes die voorreg gehad om saam met die Pretoria Simfonieorkes in die Tutti-konsert in die indrukwekkende ZK Matthews-saal by Unisa op te tree. Hierdie samewerking het die jong musikante die geleentheid gebied om hul vaardighede langs ervare musici te ontwikkel en uit te bou.
As deel van die FAK-Jeugsimfonieorkes se jaarprogram ontvang ’n orkeslid die geleentheid om, ná die aflê van ’n oudisie, ’n concerto-beweging saam met dié orkes uit te voer. Vanjaar se konsertmeester, Meldt van der Spuy, het tydens die konsert in April Max Bruch se Vioolkonsert no. 1 uitgevoer, begelei deur die FAK-Jeugsimfonieorkes en die Pretoria Simfonieorkes.
In September het die orkes ’n suksesvolle toer na die Waterberge onderneem. Optredes is Naboomspruit (Mookgopong) en Nylstroom (Modimolle) aangebied, waar gehore met waardering op die uitvoerings gereageer het. Die toer het die geleentheid geskep om klassieke musiek na gemeenskappe buite die groot stede te neem.
Tydens die gala-aand het die orkes onder leiding van dirigent dr. Jaco van Staden ’n gevarieerde program aangebied wat die omvang van hul talent en ontwikkeling weerspieël het. Die konsert het geopen met die eerste beweging van Joseph Haydn se Simfonie no. 82 in C majeur (Die Beer) en afgesluit met die kragtige finale beweging van Ludwig van Beethoven se beroemde Vyfde Simfonie.
Die gehoor is verder bederf met ’n keur van klassieke gunstelinge, insluitend werke van Gabriel Fauré, Johannes Brahms, Leroy Anderson en ander bekende komponiste. Die program het die orkes se musikaliteit, tegniese vermoë en veelsydigheid op treffende wyse beklemtoon.
Die twee konsertmeesters vir 2026, Meldt van der Spuy en Bianke van Staden, het hulle ook meesterlik van hulle taak gekwyt.
Volgens dr. Jaco van Staden het die orkes se besonderse groep jong musikante die standaard na ’n nuwe vlak geneem. “Vanjaar se orkesgroep ’n dieper musikale vlak bereik en kon vanjaar se repertoire nie net met tegniese vernuf uitvoer nie, maar ook met emosionele diepte en sensitiwiteit. Die grondslag wat die afgelope vier jaar gelê is, getuig van hierdie ontwikkeling. Hierdie orkeslede dien elkeen as ambassadeurs vir hul skole en gemeenskap.”
Een van die hoogtepunte van die aand was die uitvoering van Trumpeter’s Lullaby, waarin die trompetsolis Sebastian Boonzaier saam met die orkes opgetree het. Sy selfversekerde en musikale vertolking het groot waardering ontlok en die belang van ontwikkelingsgeleenthede vir jong kunstenaars onderstreep.
Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, is die gala-aand ’n bewys van wat moontlik is wanneer jongmense die geleentheid kry om hul talente in ’n ondersteunende en professionele omgewing te ontwikkel.
“Dit was besonders om die groei van elke orkeslid deur die loop van die jaar te beleef. Die standaard van die uitvoerings getuig van ure se oefening, toewyding en ‘n opregte liefde vir musiek. Ons is ongelooflik trots op wat hierdie jong musikante bereik het.”
De Jager sê die FAK beskou die Jeugsimfonieorkes as ’n belangrike platform vir die ontwikkeling van jong kunstenaars en die bevordering van musiekkultuur.
“Die gala-aand herinner ons daaraan hoe belangrik dit is om in jong talent te belê. Hierdie musikante ontwikkel nie net tegniese vaardighede nie, maar leer ook dissipline, spanwerk en deursettingsvermoë.”





