Die eerste FAK-Kultuurnaweek, wat van 19 tot 20 Junie op die skilderagtige Montpellier Wynlandgoed buite Tulbagh aangebied is, het alle verwagtinge oortref en bewys dat daar ’n sterk behoefte bestaan aan gehalte- Afrikaanse kuns, musiek, teater en kultuurervarings in die Wes-Kaap.
Wat as ’n inisiatief begin het om die FAK se kultuurvoetspoor in die Wes-Kaap uit te brei, het grgroei tot ’n besonderse viering van Afrikaanse kreatiwiteit, vakmanskap en gemeenskap. Besoekers van reg oor die Wes-Kaap het saamgetrek om die unieke program te geniet wat sorgvuldig saamgestel is om die beste van Afrikaanse uitvoerende en visuele kunste aan te bied.
Teen die skilderagtige agtergrond van die Winterhoekberge en die historiese wynlandskap van Tulbagh het die fees ’n atmosfeer geskep waar kuns en kultuur op ’n intieme en betekenisvolle wyse beleef kon word. Anders as groter feeste wat dikwels deur oorvol programme gekenmerk word, het die FAK-Kultuurnaweek gefokus op gehalte, verdieping en persoonlike betrokkenheid.
Die fees het op Vrydagaand afgeskop met Cap Classique: Die Kaap is weer Klassiek!, ’n stylvolle openingskonsert wat die toon vir die naweek aangegee het. Die kombinasie van uitnemende musiek, Montpellier se bekroonde wyne en die unieke atmosfeer van die wynkelder het besoekers onmiddellik in die feesgees gedompel.
Een van die hoogtepunte van die naweek was die bekroonde eenmanstuk Reünie met Frank Opperman. Die produksie, geskryf deur Dana Snyman en bekroon met ’n kykNET Fiësta-prys, het gehore diep geraak. Opperman se meesterlike vertolking het die wynkelder in ’n ruimte van herinnering, humor en introspeksie omskep, met talle gehoorlede wat ná afloop van die vertoning nog lank oor die temas van die stuk gesels het.
Musiekliefhebbers is ook bederf met By alle skone dinge, waarin die komponis Franco Prinsloo se toonsettings van ikoniese Afrikaanse poësie tot lewe gekom het deur die stem van Chris Vale. Werke van onder andere Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach en Antjie Krog het nuwe dimensies gekry in ’n produksie wat die rykdom van Afrikaanse woordkuns beklemtoon het.
Nog ’n besondere hoogtepunt was TulBach-suites: Bach in die Boland, waar die bekroonde tjellis Gerrit Koorsen die tydlose musiek van Johann Sebastian Bach verweef het met nuwe toonsettings en
Bolandse poësie. Die uitvoering het staande applous ontvang en is deur talle feesgangers as een van die mees unieke konserte van die naweek beskryf.
Die bekroonde produksie Rooidag deur Leon Gropp het eweneens groot byval gevind. Deur die poësie van N.P. van Wyk Louw op ’n vars en musikale wyse aan te bied, het die produksie bewys dat klassieke Afrikaanse letterkunde steeds relevant en toeganklik vir hedendaagse gehore kan wees.
Die visuele kunste het ook sterk verteenwoordiging geniet deur John Robbertse se uitstalling Skep, waarin identiteit, herinnering en kultuur deur ou voorwerpe en miniatuurskilderye ondersoek is. Besoekers het die geleentheid gehad om met die kunstenaar te gesels en die stories agter die werke te ontdek.
’n Verdere hoogtepunt was die gesprek Wynstories, waarin Frank Opperman, Franco Prinsloo en Sallas de Jager die rol van musiek in rolprente en televisiereekse bespreek het. Die gesprek het waardevolle insigte gebied oor die kreatiewe prosesse agter sommige van Suid-Afrika se bekendste produksies en het gelei tot lewendige gesprekke onder feesgangers.
Tussen die produksies deur het besoekers ook die geleentheid gehad om Montpellier se wyne te geniet, wyntoere te onderneem, ’n unieke kwilt-en-wyn-passing te beleef en die historiese dorp Tulbagh te verken.
Die fees is Saterdagaand afgesluit met die elegante Spyseniersberg Soirée, waar musiek, wyn en samesyn op gepaste wyse die einde van ’n onvergeetlike naweek gemerk het. Die konsert het die fees se kernboodskap perfek saamgevat: dat kultuur mense bymekaarbring, inspireer en ’n gevoel van verbondenheid skep.
Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van kuns, taal en musiek, het die sukses van die eerste FAK-Kultuurnaweek bevestig dat daar ruimte is vir ’n fees wat op gehalte en betekenisvolle belewenisse fokus.
“Ons wou nie bloot nog ’n fees aanbied nie; ons wou ’n ruimte skep waar kunstenaars en gehore mekaar werklik op ’n intieme manier kan ontmoet. Hierdie naweek het bewys dat daar ’n groot honger is vir kuns wat mense raak, uitdaag en inspireer.”
De Jager sê die unieke kombinasie van wêreldklasproduksies en die besonderse omgewing van Montpellier het ’n wenresep geskep.
“Die FAK-Kultuurnaweek het gewys hoe sterk en lewenskragtig Afrikaanse kuns steeds is. Van teater en musiek tot beeldende kuns en gesprekke – elke produksie het iets betekenisvol bygedra. Ons glo hierdie fees het die begin van ’n nuwe kultuurtradisie in die Boland geword.”
Die FAK het sy dank uitgespreek teenoor Montpellier, die kunstenaars, ondersteuners en feesgangers wat gehelp het om die eerste FAK-Kultuurnaweek ’n groot sukses te maak.
Met die positiewe terugvoer van besoekers en kunstenaars is daar reeds opgewondenheid oor toekomstige feeste wat ook elders in die land aangebied gaan word. Indien die eerste FAK-Kultuurnaweek enige aanduiding is, het die Boland eweneens ’n nuwe kulturele hoogtepunt bygekry wat nog vir jare gehore sal lok.












