Mediaverklaring

9 November 2023

Die FAK het die oorblywende erfenisskatte en die oorskot van die Ampie Bosman Kultuurhistoriese museum gaan verwyder en in bewaring geneem voordat diewe dit vir ons doen.

Meer as twee weke sedert die brand op 24 Oktober by die museum in Lichtenburg uitgebreek het, is daar steeds geen antwoorde gegee of aksiestappe geneem deur die munisipaliteit nie.

Die munisipaliteit het ook nie eers gepoog om veiligheidsmaatreëls in plek te plaas om verdere vandalisering en diefstal te voorkom nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vroeër berig dat dié museum afgebrand het ten spyte van gemeenskapslede en die brandweer wat die brand probeer blus het. Verskeie kosbare kultuurskatte is tydens hierdie brand verlore, onder andere briewe van Siener van Rensburg en ‘n bronsbeeld van genl. De la Rey wat in die slag gebly het.

“Ons kan nie bloot net staan en kyk hoe ons erfenis verbrand, gesteel en verlore raak nie. Elke dag wat daar nie aksie geneem word nie, is nog ’n dag wat ons erfenis vergaan.”

Só sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke.

“Dit is tyd vir aksie,” sê Müller.

Dáárom het ‘n span van die FAK na Lichtenburg gereis om te kyk wat nog te redde is vanuit die puinhoop wat voorheen die Ampie Bosman-museum was.

Net in 2023 het die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg reeds vyf verskillende munisipale bestuurders aangestel. Nie een het tot dusver die mas opgekom nie. Dít geld ook vir die aanstelling van ’n burgemeester en het vanjaar ook reeds twee maal dié pos vervang.

Die Ditsobotla-munisipaliteit het keer op keer bewys dat hulle onbevoeg is selfs binne hul eie departemente, wat nog te sê van hul verantwoordelikheid om ons erfenis te beskerm.

Die FAK het verskeie kere waarskuwings van onbekwaamheid, nalatigheid en ’n tekort aan sekuriteit aan die Ditsobotla-munisipaliteit gerig, maar dié het telkemale op dowe ore geval.

Daar is net een uitweg. Afrikaners moet rekenskap neem vir hul eie erfenis, of die risiko aanvaar dat dit tot die grond toe kan verbrand.

“Ons gesels lekker op sosiale media, maar wanneer geleenthede aangebied word om ons erfenis te beskerm, dan daag daar min op. Ek hoop dat ons mense wakker skrik na hierdie tragedie en die realiteit aanvaar – as ons nie self ons erfenis beskerm nie, dan brand dit. Ek nooi die publiek graag uit om die FAK se geleenthede by te woon en te help red – dit wat nog redbaar is,” meen Frans de Klerk, veldtogbeampte van die FAK.

Die FAK kon die volgende items vanuit die puinhoop red voordat dit weggedra is:

  • Verskeie boeke en dokumente
  • Verkoolde houtborsbeeld van De la Rey
  • Verskeie kombuisware (koppies, bakke, piering)
  • Twee wabande
  • Gereedskapstukke (beitels, emmers)
  • Stukke van Nonnie de la Rey se koets (spaaider). Die meerderheid van die koetsoorblyfsels was vasgekeer onder die dak wat ingeval het.
  • Handgewere en geweerlope

Die munisipaliteit is traag om die gebou op te ruim. Sodra die dak gelig is, sal die FAK weer die ruïnes gaan besoek om te bepaal wat ons nog in bewaring kan neem.

Die FAK is ook bekommerd oor die kunsgalery by die dorpsbiblioteek en is toegang geweier tot die gebou. Die stadsaal het ook gebrand. Daar is vanuit die gemeenskap diepe kommer uitgespreek oor die veiligheid van die bekende beeld van De la Rey wat voor die stadsaal staan.

Ons erfenis is in gedrang.