Mediaverklaring

29 September

“Ons erfenis is besig om voor ons oë te verbrokkel.”

Só sê Barry Müller, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk koördineerder, nadat die FAK ’n regsbrief op die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit beteken het.

Die FAK probeer al maande lank om die munisipaliteit te kry om hulle verpligtinge na te kom en die Noordwes Landbou Museum in Lichtenburg te beveilig, maar al die versoeke het op dowe ore geval.

Dit het die FAK genoop om die regsroete te neem en eis dat die munisipaliteit die artefakte in veilige bewaring plaas wat nie op die terrein is nie.

Sou hulle nie tot daad oorgaan en met ’n oplossing kom binne die volgende 10 dae nie, sal die FAK die hof nader om ’n interdik te bekom om die artefakte na ’n plek van veilige bewaring te skuif.

Die gemeenskap en organisasie het soos een man opgestaan en hande opgesteek om die goedere in veilige bewaring te plaas. Die organisasies sluit in, NWK Limited, die Christelike Volkseie Onderwys Skool in Lichtenburg, FAK Udolpho Rivierplaas in Parys en die Als-groep.

Tydens ’n openbare vergadering op 29 September het die kurator van die museum bevestig daar is reeds meer as 10 inbrake in die afgelope drie maande by die polisie aangemeld.

Oor erfenisnaweek is daar weer by museum ingebreek en artefakte is gesteel.

Op 29 September is daar ook by die kerk op die perseel ingebreek en die agterdeur is uitgebreek en gesteel. Die kurator kon nog nie agterkom wat uit die kerk gesteel is nie.

Jaco Cilliers, kultuurhoof van die FAK, sê daar is geen manier hoe hulle in die stadium die museum kan beveilig nie.

“Ons is al vir maande in gesprek met die munisipaliteit oor die toestand van hierdie museum en ander erfnisskatte in die hierdie dorp en daar gebeur net niks nie. Die heinings is af, hier is geen drade nie, hier is geen sekuriteit nie, daar loop mense deur die terrein. Daar is geen manier hoe hierdie plek beveilig kan word nie,” sê Cilliers.

Müller het emosioneel geraak oor die toestand van die museum.

“Dis pyn en hartseer as mens sien wat gebeur met ons erfenis op die ou einde van die dag en hierdie trein is letterlik die simboliek vir Lichtenburg se landboumuseum,” sê Müller.

Hy verwys hier na die treintrok by die museum wat in Julie afgebrand het.

Die FAK het die brief aan die waarnemende munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Duduzile Dube, oorhandig en sy het versoek om volgende week met die FAK te vergader.

Die FAK vra ook die publiek om hierdie petisie te teken en die FAK se hande sterker te maak in die hierdie regsaksie. Steun die FAK se regsaksie teen die Ditsobotla-munisipaliteit vir die behoud en bewaring van die Noordwes Landboumuseum in Lichtenburg se museumvoorwerpe.

Vir enige navrae, kontak vir Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die FAK.

gerhard@kultuurtuiste.org.za | 083 789 1985