Dr. Pieter Mulder sê die bekende Boeresoldaat Danie Theron was Suid-Afrika se eie 007.

Op 27 April het die FAK Sentraal en verskeie lede van die GGSA Vaal en ander GGSA-takke die Danie Theron-gedenknaald net buite Fochville besoek.

Mulder, voormalige Vryheidsfront Plus-leier, het die gaste toegespreek en staaltjies oor Theron gedeel.

Die eienaar van die grond, meneer Leon Meyer, het goedgunstiglik die FAK toestemming verleen om die terrein te betree, skoon te maak en ’n funksie te hou ter herdenking van een van Suid-Afrika se groot manne: Kaptein “keppie” Danie Theron.

Danie Theron was Suid-Afrika se eie James Bond.

Theron was ’n bekende figuur tydens die Anglo-Boereoorlog. Onder die leiding van generaal Christiaan de Wet, was Theron ’n bobaasverkenner. Van sy bekende heldedade sluit in om tydens ’n veldslag tussen linies te kruip om boodskappe oor te dra en om Boeregevangenes uit Britse kampe te bevry.

Dr. Mulder vertel ook die liefdesverhaal tussen Danie Theron en Hannie. “Hy het elke jaar op haar verjaarsdag vir haar ’n kransie op haar graf gaan lê. Sy is voor die oorlog aan ’n longkwaal oorlede,” vertel Mulder.

Volgens oorlewering het Theron hom dikwels as ’n Britse soldaat voorgedoen en gewapen tussen die Britte beweeg. Danksy sy vlot Engelse dialek en goeie voorkoms, het hy die Britte se vertroue as “kameraad” gewen en sodoende waardevolle inligting en strategieë vir die Boere ingesamel.

Dr. Mulder vertel oor Theron se sterfdag dat hy en generaal Liebenberg ooreengekom het om ’n lokval vir die Britte op te stel. “Danie was besig met verkenningswerk toe ’n patrollie van sewe Britte oor die koppie op hom afkom. Hy het drie gedood en vier is swaar gewond die koppie af terug na hul makkers,” sê Mulder.

Die Britte het gereken daar is ’n hele kommando voor hulle en het hul kanonne gevuur.

“Danie Theron is deur die Britte in ’n vlak graf begrawe, en in 1903 deur sy strydmakkers van die Wielrijderskorps herbegrawe langs sy enigste liefde, Hannie, by Eikenhof in die familiebegraafplaas. Hy is op 28-jarige ouderdom oorlede in diens van sy volk,” vertel Mulder.

Kaptein Danie Theron was ’n innoverende krygsman, kort van draad en haastig, maar met ’n hartstogtelike liefde vir sy Hannie en die ZAR.