Mediaverklaring

17 Februarie 2024

In Estcourt (KwaZulu-Natal) is ’n vervalle mosaïek wat die storie van die Bloukransmoorde vertolk. Hierdie mosaïek is in 1988 onthul en deur ’n vrou van Italiaanse afkoms, Vera Giovitto, kunstig gemaak.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vir meer as twee jaar gepoog om hierdie erfenisskat in bewaring te neem, maar is keer op keer deur die plaaslike munisipaliteit verhoed. Dit is tóé wat die FAK die replika laat maak het, wat nou, groter en mooier, in die Historiese Trekroetetuin van die Voortrekkermonument pryk.

Giovitto en haar dogter, Marina Giovitto Ehlers van Mosaic Arts, het die spesiale onthullingseremonie by die Voortrekkermonument bygewoon. Dit op die herdenking van die aanvalle wat in 1838 by Bloukrans (vandag naby Estcourt) plaasgevind het. Lede van Akademia se Erfenisklub het ook die onthullingseremonie bygewoon.

“Met historiese gebeurtenisse soos dié word ons het weer herinner aan wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons word ook herinner dat ons moet trots wees oor ons herkoms. Ons moet opstaan en ons moet saamstaan om ’n beter toekoms te bewerkstellig. Ons skryf vandag aan die geskiedenisboeke van môre, so dit wat jy vandag doen, moet saak maak.”

Vera Giovitto is in Venesië, Italië, gebore en het in 1967 na Suid-Afrika verhuis. Hier het sy met haar man, ook van Italiaanse afkoms, sommer voor die magistraat getrou. Byna 60 jaar later is Giovitto steeds in Suid-Afrika en tans woonagtig in Pretoria. Saam met haar dogter Marina en haar man, wat reeds oorlede is, het hulle ’n onmiskenbare bydrae tot Suid-Afrika se erfenis gemaak en verskeie mosaïekprojekte regoor die land en selfs in die buiteland aangepak. Op 82 is sy steeds besig om nuwe kuns te skep.

Vera Giovitto vertel dat sy byna meer Afrikaner is as wat sy Italianer is, omdat sy die meeste van haar lewe in Suid-Afrika deurgebring het. Sy vertel hoe belangrik dit is om emosie behoorlik uit te beeld en hoe dit soms dae kan neem net om ’n gesig van ’n figuur klaar te kry.

Marina Giovitto het ook die replika geskep van die mosaïek wat in die Louis Trichardt-gedenktuin in Maputo aangetref word, en wat in 2021 in die Trekroetetuin onthul is.

Na afloop van hierdie spesiale oomblik het die Akademia-studente meer oor die Groot Trek en in besonder oor die Bloukransmoorde geleer en ’n spesiale nagtoer deur die Voortrekkermonument deurgemaak.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke, het die toer deur die Voortrekkermonument aangebied en puik aan die studente oorgedra.

“Dit is ’n groot voorreg om húlle storie (Afrikanergeskiedenis) vir hulle oor te dra en hulle te help om hul identiteit in hul Afrikanerskap te kan ontdek. Soos ’n vuur word die liefde vir erfenis en geskiedenis versprei. Hierdie geskiedenis is nie net ietsie klein nie en kan jongmense inspireer om nie te voel of hulle impak te gering is nie, maar juis dat ’n klein heldedaad ’n groot impak kan maak.”

Louisa Visser, voorsitter van Akademia se SR Verenigings, sê sy is “kinderlik opgewonde oor ons Afrikanerkultuur en -erfenis.”

“Ek het nog altyd so bietjie geweet, maar ek besef net hoe kultuurryke geskiedenis ons het. Die vuur om trots te wees op ons kultuur is beslis aangesteek. Ek sien ook uit om meer te leer,” gaan Visser voort.

Wanneer jongmense ’n behoefte het om meer van hul herkoms te leer en hul identiteit te vorm, is die toekoms blink.

Die FAK is by verskeie kultuur-, erfenis- en geskiedenisprojekte betrokke. Skakel in by soortgelyke projekte deur aan te sluit by jou plaaslike kultuurnetwerk.