Mediaverklaring

24 Mei 2024

’n Blokhuis wat in puin lê, is deur die FAK en die Erfenisstigting gered.

Dié “Rice Pattern”-blokhuis is geleë in Thaba Tshwane militêre dorp in Pretoria en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het drie maande terug gehoor dat dit gevandaliseer is.

’n Groep van die FAK, Erfenisstigting en erfeniskenners het op 24 Mei die sinkruïnes en oorblyfsels van die blokhuis verwyder om gerestoureer en weer opgerig te word.

Die spesifieke blokhuis was die laaste blokhuis in Suid-Afrika wat bestaan het uit al sy oorspronklike materiale, maar van die is nou gesteel.

Na lang onderhandelings met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het die FAK toestemming gekry om die oorblywende materiale te kon verwyder.

Die FAK gaan die blokhuis by Fort Schanskop by die Voortrekkermonument oprig.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder by die FAK, sê dis hartseer om te sien hoe die erfenis van ons land agteruitgaan.

“Dit lê in ’n puinhoop, dit is basies net die sink wat oor is. My en jou storie is ’n gedeelte daarvan en dit is totaal en al uitgevee.

“Vandag is ons hier met erfenisspesialiste. Hou hierdie spasie dop, hierdie blokhuis sal weer opgebou word en dié keer by die Voortrekkermonument,” sê Rademeyer.

Simon C Green, een van ons land se voorste kenners op blokhuise, sê blokhuise is tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Britse magte opgerig as veiligheidstrukture waar soldate kernstrukture soos spoorweë beskerm het of dit gebruik het as berging vir wapens en ammunisie.

“Die area waar ons nou staan, is ’n militêre basis Robert Heights, wat vernoem is na die bekende generaal Roberts (Frederich Roberts wat die verskroeideaardebeleid tydens die oorlog ingestel het) en toe word dit ’n SANW militêre basis,” sê Green.

“Waar ons nou staan, is koalisies van gewillige persone wat intree en die (erfenis) red. Ons is nou in ’n herstelfase,” sê Green.

Die FAK het kultuurnetwerke regoor die land wat projekte soos hierdie aanpak om ons erfenis te beskerm en bewaar. Gemeenskappe word aangemoedig om by hulle plaaslike netwerke aan te sluit. Vir verdere inligting hieroor kontak gerus vir Charles Rademeyer by charles@kultuurtuiste.org.za of ondersteun die FAK en volg die volgende skakel: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/