Mediaverklaring

30 April 2024

Die FAK spog met een van die jongste skrywers wat NB-Uitgewers nog opgelewer het.

24 jaar jonk en reeds haar eerste boek.

Anneke Langner, die veelsydige mediabeampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), se boek, Platsak maak ’n plan, is gisteraand tydens ’n intieme geleentheid bekendgestel.

Sy het reeds in 2019, toe sy maar ’n eerstejaarstudent was, aan die manuskrip begin werk.

Die inspirasie vir hierdie boek het gekom aan die hand van ’n berig wat in daardie selfde jaar gepubliseer is oor ’n jong man en sy ouers wat Nieu-Seeland toe sou emigreer en hy wat geld insamel om sy beste viervoetige vriend Leo, ’n Jack Russel-kruising, saam te neem.

Ethan, die hoofkarakter in die boek, kon nie sy beste vriend Leo agterlaat nie en moet R40 000 insamel om hom saam te neem.

NB-Uitgewers is nou in gesprekke met skole om die boek in die kurrikulum in te bring.

“Toe ek die manuskrip die eerste keer gelees het, het ek gesê dit is ’n boek wat kan werk in die klaskamer, want ek het die taal onmiddellik geïdentifiseer, die beeldspraak wat kan uitkom. Dit is iets wat ons by ons kinders moet uitkry om te kyk hoe kan hulle werk met verlies en planne wat gemaak kan word,” sê Henk Viljoen van NB-Uitgewers.

Langner het die manuskrip in haar derde jaar van BA Taal en Literatuurstudies vir die vak kreatiewe skryfkuns as navorsingsopdrag ingedien.

“Die lekkerste ding van storie skryf, is om te sien hoe die storie bymekaarkom en hoe die karakters ontwikkel. Die moeilikste ding is om te gaan sit en dit alles neer te pen.”

“Ek is ongelooflik dankbaar en geëerd om so ’n boek te kan uitbring en ek hoop dit kan ’n verskil in jong mense se lewens maak,” sê Langner.

Haar liefde vir diere slaan sterk deur en 10% van die inkomste van die boeke wat tydens die bekendstelling verkoop is, word aan Wollies, ’n tuiste vir vergete honde en katte, geskenk.

Die boek is by verskeie boekwinkels beskikbaar en kan ook aanlyn by NB-Uitgewers bestel word.