Mediaverklaring

25 Maart 2023

 

FAK skep toekoms vir musiek en talent

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jeugsimfonieorkes het op Vrydagaand 24 Maart geskiedenis gemaak tydens hul eerste bekendstellingskonsert wat in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument plaasgevind het.

Die jeugsimfonieorkes, wat in 2022 aangekondig is, het onder leiding van Jaco van Staden, dirigent en hoof van die orkes, tot ’n volwaardige orkes gegroei. Jong musikante kry die geleentheid om hul talent te beoefen en ontwikkel en só ook ons musiekerfenis, wat diep in ons Europese herkoms gewortel is, te bevorder.

“Ek is ongelooflik trots op die orkes,” sê Van Staden. “As mens dink dat hulle eintlik maar net begin Februarie begin oefen het, het hierdie kinders uitgehaal en gewys. Hulle het die verwagting van ’n volwaardige simfonieorkes oortref.”

’n Ongelooflike atmosfeer het geheers in die Senotaafsaal met die ondersteuning en trots van ouers, oupas en oumas en lede van die publiek wat die konsert bygewoon het.

“Die gehoor het heelwat optimisme en ’n positiewe energie verleen en die orkes het daarvolgens gereageer en ’n pragtige konsert gelewer. Dit was ’n groot sukses.”

Dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument (VTM), het van dié geleentheid gesê: “Hierdie eerste optrede van die FAK Jeugsimfonieorkes was ongelooflik. Ek het nog nooit so iets in die Voortrekkermonument beleef nie. Die bywoning was uitstekend.”

Emileo Claassen (13), is een van die jongste lede van die orkes en alhoewel hy al vantevore deelgeneem het aan orkeste, vertel hy dat dié orkes se musiek op ’n hoër vlak is.

Tydens die konsert is die pragtige klanke van Beethoven se Egmont-ouverture gehoor, asook uittreksels vanuit E Grieg se Peer Gynt-suite. Die konsert is geopen met ’n pragtige klavieruitvoering deur Heinrich Sutton, ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Waterkloof.

Lede van die Suid-Afrikaanse Musiekonderwysersvereniging (SAMOV) het die konsert bygewoon en die terugvoer van dié groep was positief.

’n Jong musikant wat die konsert bygewoon het, Anke Kritzinger (15) sê: “Ek is baie beïndruk. Hulle gaan nog ongelooflike dinge doen.”

Die FAK beplan nog vele opwindende konserte vir die toekoms.

Dié simfonieorkes is ’n groeiende orkes. Indien daar enige instumentaliste is wat wil aansluit, daar is altyd plek vir jong ywerige musikante.