Mediaverklaring

25 Maart 2024

Vir die eerste keer in die geskiedenis het die Ffortissimo Vokale Ensemble in die Heldesaal van die Voortrekkermonument opgetree.

Op 24 Maart het die ensemble, onder leiding van Gideon Els, ’n indrukwekkende Paaskonsert aangebied wat die hartsnare geroer het. Dit is deel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se klassieke musiek-konsertreeks wat deurlopend in 2024 by die Voortrekkermonument aangebied word.

Els se passie en liefde vir sy klassieke musiek is aansteeklik. Hy het nooit geweet dat konserte soos dié in die Voortrekkermonument aangebied word nie en sal graag in die toekoms nog ’n konsert in die monument wil aanbied.

“Dis ’n ongelooflike voorreg om in die monument op te tree. Ek is so trots,” sê Els.

Meer as ’n honderd konsertgangers het opgedaag om Gabriel Fauré se Requiem in D-mineur, Opus 48 aan te hoor. Nie net het die ensemble opgetree nie, maar is die pragtige sangstemme ondersteun deur ’n kamermusiekorkes.

Jaco van Staden, hoof van musiekprojekte by die FAK, was ook deel van die orkes in hierdie konsert. Van Staden is ’n Franse horingspeler.

“Die Fauré Requiem het ’n wonderlike atmosfeer geskep in die Heldesaal. Hierdie werk wat die Paasverhaal weerspieël, het juis baie goed gewerk in die Voortrekkermonument. Die katedraal-effek wat dit skep, bring ’n unieke atmosfeer, iets wat veral goed werk met misse, koorwerke en Kersmusiek,” sê Van Staden.

Van Staden verduidelik dat die program van die FAK se klassieke musiek-konsertreeks vanjaar is vir die doel om ’n wye verskeidenheid genres van klassieke musiek aan gehore bloot te stel.

Karel Tredoux, direksielid van die Voortrekkermonument, het die konsert ten diepste geniet.

“Dit was puik. Julle bydrae hier was ’n groot sukses en is so spesiaal,” sê Tredoux.

’n Requiem is meestal natuurlik verbind aan die Paastyd. Hierdie werk volg die lydingstyd van Jesus Christus en lui die Paastyd op ’n besondere manier in.

Klassieke musiek-liefhebbers kan uitsien na nog vele geleenthede in 2024. Hier volg kortliks die beplande konserte vir die res van die jaar.

  • 8 Junie – Philip de Vos met die Karnaval van die Diere onder leiding van Jaco van Staden
  • 3 Augustus – Monumentale Koorfees
  • 31 Augustus – Mozart “Serenade” – verskeie werke vir 8 blasers
  • 18 September – FAK Jeugsimfonieorkes-erfeniskonsert onder leiding van Jaco van Staden
  • 8 Desember – FAK Opera Gala in samewerking met MayFord Seeds