Judite Howell, wat die derde plek in vanjaar se FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie met die liedjie “Somerwyn” behaal het, het dié liedjie amptelik op 16 September vrygestel. Luisteraars en beoordelaars was bekoor deur die egtheid en emosie van haar inskrywing en die professionele vrystelling hiervan lui ’n nuwe hoofstuk in Howell se musiekloopbaan in.

Volgens Howell gaan “Somerwyn” oor afskeid en nostalgie. “‘Somerwyn’ is geskryf vir almal wat al afskeid moes neem, miskien omdat die tyd of omstandighede nie reg was nie. ’n Mens gaan deur die lewe met soveel bittersoet herinneringe en daar is altyd ’n fyn stemmetjie wat vra: ‘Wat as dinge net anders kon wees?’

“Dis ’n liedjie oor tweede kanse en verlange. Oor die dinge wat mooi was en op ’n manier steeds is. Hulle sê wyn raak beter soos dit ouer word. Ek hou daarvan om te dink dat dieselfde vir ons as mense geld. Wanneer mense na my liedjie luister, wil ek graag hê dat daardie deeltjie van hulself wat effens leeg is, weer ’n bietjie voller voel.”

Volgens Howell lyk haar kreatiewe proses anders vir elke liedjie. “Soms begin dit met ’n melodie en soms met een lyntjie woorde. Soms is dit net ’n idee wat begin vorm aanneem wanneer ek ’n paar note speel. Ek is geneig om swaarder musiek te skryf wanneer ek kwaad of hartseer is, maar ‘Somerwyn’ is gebore uit ’n seisoen van opwinding.

“Ek het vir ’n lang ruk uit die musiekbedryf onttrek en ek onthou hoe ek daardie aand verlang het na die bedryf en wie ek was. In ’n mate het ek die eerste lyne vir myself geskryf … In ’n ander dorp met ’n ander naam, sal jy my onthou as ek langs jou staan? Toe raak dit ’n liefdesbrief.”

Die liedjie het ook ’n persoonlike betekenis vir haar. ’n Aand by ’n Francois van Coke-konsert het haar kreatiewe vonk weer laat vlamvat. “Ek het by die huis gekom, op die bank gaan sit met my kitaar en ‘Somerwyn’ geskryf. Al gaan die lied nie noodwendig oor een spesiale persoon nie, was die persoonlike ervaring wat my na hierdie liedjie gelei het baie spesiaal. Dit het my die inspirasie en hupstoot gegee om weer ernstig te fokus op wat my die gelukkigste maak.”

Musikaal wys “Somerwyn” wie Howell regtig is. Sy is lief vir jazz, funk, hip-hop en rock, maar hou ook daarvan om haarself in Afrikaans en Engels uit te druk. “Hierdie liedjie is net ek – rou en sonder maskers. ’n Kunstenaar hoef nie in een boksie te pas nie. Vir nou is ek gelukkig om net myself te wees en dit met die wêreld te deel.”

Howell werk reeds aan haar debuutalbum, met vyf ander liedjies wat binnekort opgeneem gaan word. Met die vrystelling van “Somerwyn” kan luisteraars nie net na die liedjie gaan luister nie, maar ook ’n intieme blik kry op die hart en siel van ’n kunstenaar wat haar stem herontdek het.

“Somerwyn” is nou beskikbaar op jou gunstelingmusiekplatform.