Mediaverklaring

27 Februarie 2024

’n Groep dapper stappers het die afgelope naweek saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in die historiese spore van Piet Retief op sy geboorteplaas gestap.

Op Welvanpas, Wellington, het Piet Retief die eerste 27 jaar van sy lewe deurgebring – een van die feite oor hierdie Groot Trek-leier wat die stappers so langs die roete kon ontdek, saam met vele ander wat teen die bome langs die roete is.

Rinie Hansen, een van die stappers, sê hierdie ervaring was nie net pret nie, maar ook ongelooflik verrykend.

“Die prettige manier van blootstelling en bewusmaking van ons ryk erfenis help oud en jonk om die feite te onthou. Ek het opnuut weer geleer dat ’n sterk leier nodig is saam met orde en struktuur. Ons het dit broodnodig in die tydsgees waarin ons leef. Ons eer ’n leier wat op ’n tragiese wyse die hoogste prys betaal het. Sy eerlikheid, integriteit en opregte bedoelings word gesalueer,” sê Hansen.

Juanine Kok, kultuurkoördineerder van die FAK in die suidelike streke, sê dat dit voel of mens op die staproete vir Piet Retief amper persoonlik leer ken.

“Hy was ’n man met ’n ingebore talent om te kon regeer, en wat soveel respek by trekkers tydens die Groot Trek gewen het dat hy met sy aankoms by Winburg verkies is tot eerste goewerneur,” sê Kok.

Op die roete, al langs ’n bergstroompie, deur varings, om wingerde, deur ’n dennebos, deur fynbos tot by ’n waterval het die groep gesels en die lewe van die Groot Trek-leier oordink.

Alwyn Beetge se voorouers het saam met die Potgieter-trek die binneland ingevaar. Vir Beetge was hierdie ervaring opnuut ’n besef van die opoffering wat ons voorouers gemaak het.

“Dit was ’n voorreg om in die voetspore van die 27-jarige Piet Retief te loop. As ’n nasaat van die Voortrekkers het die stap my opnuut laat besef watter opoffering hulle gemaak het vir hul drome van vryheid en reg. Hierdie geskiedenis-staptogte bring nuwe insigte en is verrykend.”

Jeanette Riley het ook haar stewels aangetrek.

“Soos altyd was dit ’n fantastiese brokkie geskiedenis oor Piet Retief en die feit dat dit op so pragtige, geskiedenisryke plaas van die Retief-familie gedeel is, het dit soveel beter gemaak,” sê Riley.

Piet Retief was ook die outeur van die Manifes waarin die redes vir die Groot Trek vervat is. Sy ideaal was om ’n vrye republiek vir sy mense tot stand te bring in Natal sonder vreemde inmenging en met ’n hawe sodat daar vrye toegang na die buitewêreld was. Dit het hom in kontak gebring met die Zoeloekoning Dingaan, met wie hy vir grond onderhandel het. Dit het egter tragies geëindig toe hy en ongeveer 70 man saam met hom, insluitend sy jong seun Pieter, verraderlik deur Dingaan se impi’s op 6 Februarie 1838 vermoor is.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK sê dat Piet Retief vir ons almal ’n inspirasie as leier kan wees.

“Die wysheid van Retief en die ongelooflike leierskapsvaardighede wat hy getoon het, het ’n impak gemaak op enige iemand wat met hom in kontak gekom het. Retief is werklik ’n inspirasie en die leiers van môre kan baie by hom leer,” sê Langner.

Die pragtige opstal op die plaas erken jy as die een op die foto in die Groot Trek Gedenkboek wat in 1938 geneem is toe die Piet Retief-ossewa met sy span osse voor die huis gestaan het. Die wa het hier aangedoen op sy pad noord tydens die Simboliese Ossewatrek.

Die FAK bied dikwels avontuurlustige geskiedenis- en erfenistoere soos dié aan.

Kontak die FAK-Kaapkantoor by kaapstad@kultuurtuiste.org.za vir meer inligting oor die jaarprogram en om by geleenthede soos hierdie in die toekoms aan te sluit.