Die opening van ’n geskiedkundige gedenksaal by Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom op 21 Mei was ’n besondere geleentheid waartydens die skool se ryk geskiedenis, sterk gemeenskapsgees en waardering vir erfenis op luisterryke wyse gevier is.
Leerders, personeel, oudleerders en gemeenskapslede het die geleentheid bygewoon. Die FAK se kultuurorganiseerder vir die sentrale streek, Lieandri Ackermann, het twee spesiale toekennings namens die organisasie oorhandig.
Die museum, ingerig in die historiese “ou saal”, vorm deel van die skool se vieringe van sy 136ste bestaansjaar as die oudste laerskool noord van die Oranjerivier. Die projek is onder leiding van die skoolhoof, Heyns Deacon, aangepak met die doel om die skool se geskiedenis vir toekomstige geslagte te bewaar en toeganklik te maak.
Volgens Ackermann was dit ’n emosionele en inspirerende geleentheid. “Wat uitgestaan het, was dat die hele skoolgemeenskap betrokke is – van die jongste leerders, die leiers en die koor tot tannie Fien Tiedt, wat 107 jaar oud is. Dit was werklik ’n praggeleentheid. Die gedenksaal is uiters mooi ingerig en dit is duidelik dat daar baie tyd, moeite en kundigheid ingegaan het. Dit is ’n erfstuk waarop die skool en die gemeenskap met reg trots kan wees.”
Een van die hoogtepunte van die dag was die huldiging van Fien Tiedt, beter bekend as Tannie Fien, wat op 107-jarige ouderdom steeds ’n geliefde figuur in die skoolgemeenskap is. Die FAK het haar vereer vir haar jarelange diens aan die opvoeding van kinders en haar blywende invloed op die gemeenskap. Haar lewe is beskryf as een van roeping, opoffering en ’n diep liefde vir kinders. Oor dekades heen het sy nie net kennis oorgedra nie, maar ook waardes, dissipline, kultuurbewustheid en menswaardigheid in jong lewens help vestig.
Volgens Ackermann getuig die feit dat die skool haar jaarliks op haar verjaardag besoek en met ’n geskenk vereer, van die besondere plek wat sy steeds in die harte van oud- en huidige Emmies beklee.
Deacon is ook met ’n FAK-toekenning vereer vir sy leiding en visie met die vestiging van die museum, asook sy bydrae tot erfenisbewaring. Volgens die FAK getuig sy besluit om die ou saal te restoureer en in ’n museum te omskep van ’n diep waardering vir geskiedenis, identiteit en kultuur. Die restourasie van die historiese houtvloere en vensters, asook die uitstalling van foto’s, memorabilia en aandenkings, vorm deel van ’n groter droom om die verhaal van die skool sedert 1890 lewendig te hou.
“Die projek is veel meer as net ’n opknappingsinisiatief. Dit is ’n daad van doelbewuste kultuurbewaring en gemeenskapsbou,” het Ackermann gesê.
Die opening van die museum het uiteindelik nie net die skool se geskiedenis gevier nie, maar ook hulde gebring aan die mense wat oor geslagte heen bygedra het om die waardes en tradisies van Laerskool M.L. Fick lewendig te hou. Met die nuwe gedenksaal beskik die skool nou oor ’n tasbare ruimte waar sy verhaal bewaar en met trots aan toekomstige geslagte oorgedra kan word.



