Mediaverklaring

27 Maart 2023

FAK vereer stoeiheld: die Gemaskerde Wonder

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke, tesame met die Alberton stoeiklub het 25 Maart, 80 jaar na sy afsterwe, die lewe vereer van Johannes van der Walt wat dalk beter bekendstaan as die Gemaskerde Wonder.

Johannes van der Walt was in die dertigerjare ’n bekende stoeier wat internasionale opspraak gemaak het. Vir Suid-Afrikaners was en is hy vandag steeds ’n sportheld en inspirasie. Die FAK het aan Van der Walt hulde gebring met die skoonmaak van sy graf, wat die kinders van die Alberton Stoeiklub behartig het en by die Wespark Begraafplaas in Johannesburg te vinde is. Ter nagedagtenis van sy loopbaan as stoeier, is die krans wat op sy graf gelê is in die vorm van ’n masker.

Barry Müller, die kultuurkorganiseerder van die noordelike provinsies wat dié geleentheid gekoördineer het, sê dat dit belangrik is dat ons nooit mense soos Van der Walt moet vergeet nie.

“Mense soos Johannes van der Walt het op hulle manier ook diep spore getrap in die Afrikanergeskiedenis en het die weg gebaan vir volgende generasies. Hy was en is ‘n inspirasie vir baie mense.”

Müller gaan voort en sê dat daar so baie gepraat word oor die Anglo-Boereoorlog en die Groot Trek, dat dit soms verfrissend is om ook ander stories uit die geskiedenis te hoor wat ook indrukwekkend is.

“Daar is min dinge in die lewe so lekker as om te sien hoe kinders bereid is om hulle hande diensbaar te stel tot die behoud van ‘n stukkie van ons geskiedenis. Dit was ’n oomblik van trots om hierdie stoeikinders te sien – nie net te loop in die spore van een van hulle stoeihelde nie, maar ook hom opreg te vereer,” sê Müller.

Volgens Renier Janse van Rensburg, president van die Alberton Stoeiklub, was dit vir hulle ’n voorreg om eer te bring aan Johannes van der Walt en wil graag in die toekoms meer betrokke wees by soortgelyke geleenthede.

Die gemaskerde wonder word beskryf as die “groot Afrikanersportheld van die jare dertig”. Johannes van der Walt, afkomstig van Johannesburg, het weens gesondheidsredes liggaamsoefeninge begin doen en só ontwikkel dat hy ’n wêreldkampioenstoeier geword het.

Hy het by die YMCA-stoeiklub in 1932 aan die Olimpiese proefwedstryde deelgeneem, maar nie die Springbokspan gehaal nie. Ses maande later het hy die Suid-Afrikaanse amateurswaargewigtitel gewen. Hy het teen drie Amerikaanse beroepstoeiers tydens skermoefeninge so goed gevaar, dat hy onder die leiding van Henri Irslinger teen 1934 ’n beroepstoeier geword het.

Hy is die Gemaskerde Wonder genoem, of in Engels die Masked Marvel, omdat Afrikaanssprekendes in daardie tyd dikwels onderskat is en minderwaardigheidsplekke moes inneem. Hy het dus sy identiteit en herkoms geheim gehou en dié was ’n besondere geslaagde veldtog, want hy het gou-gou groot opspraak gemaak.

Hy het homself vrywillig ontmasker in 1935 en daarna onder sy eie naam geveg. Op toer deur die VSA en Europa het hy deelgeneem aan 37 gevegte, waarvan hy 34 gewen het en in twee gelykop was. Hy het voor ’n skare van 95 000 mense teen die destydse swaargewigwêreldkampioen van Griekeland, Jim Londos, die geveg verloor.

In sy loopbaan het hy 184 stoeigevegte gehad, waarvan hy 111 gewen en 21 verloor het, en waarvan 52 gelykop geëindig het.