Mediaverklaring

22 September 2023

185 jaar gelede, op 23 September 1838, is die Voortrekkerleier, held, magistraat en wamaker Gerhardus Marthinus (Gerrit) Maritz aan koors oorlede. ’n Voortrekkerleier, wat tot sy laaste asem sy mense gedien en gehelp het, se grafblad is stukkend geslaan in net nog ’n gruwelike daad om Afrikanergeskiedenisbakens te verniel. Maritz se graf kan by die Bloukransmonument naby Estcourt in KwaZulu-Natal besoek word.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het tydens ’n geskiedenistoer in Mei vanjaar dié monument besoek en op die erfenisvandalisme afgekom. Nie net is Maritz se graf geskend nie, maar ook die friestonele op die Bloukransmonument self is gevandaliseer. Volgens gemeenskapslede in die omliggende areas, is dié blad deur jong booswigte stukkend geslaan.

“Keer op keer word ons kosbare erfenisbakens verwoes. Die FAK-Kultuurnetwerke is ons eerste linie om erfenisskade aan te meld en die FAK, tesame met die Erfenisstigting (ES), kan dan die regte kanale volg om die skade te herstel.“

Só sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike provinsies.

“Nadat ons in samewerking met die Erfenisstigting die nodige goedkeuring by Amafa bekom het, gaan ons in Oktober die blad vervang.”

Maritz is 1895 by die Bloukransmonument herbegrawe.

“Die vermoede is dat Maritz daar herbegrawe is, weens sy rol as weesheer van die weeskinders na wie hy omgesien het na die moorde by Bloukrans en Weenen in Februarie 1838,” gaan Müller voort.

“Dit is uiters belangrik om erkenning te gee aan diegene wat sulke diep leidende spore getrap het in ons geskiedenis. Die dag wat ons nie meer die bakens van ons voorvaders belangrik ag nie, is die dag wat ons ons kulturele identiteit verloor. Vandag is dit presies 185 jaar terug wat Gerrit Maritz sy laaste asem uitgeblaas het en die vertroue in sy laaste woorde is so belangrik vandag as wat dit toe was. ‘Hoe moeilik dit ook lyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land’.”

Die FAK moedig die publiek aan om erfenisskade in hul gemeenskappe aan te meld. Saam kan ’n verskil gemaak word en ons erfenis vir die nageslag bewaar word.

Sluit aan as vriend van die FAK en maak ons hande sterker om ons erfenis te bewaar.