Drie laerskole kan spog as die eienaars van Deon Opperman se Gogga Gedigte-kinderboek.

Jaarliks word Internasionale Kinderboekdag op 2 April gevier – die geboortedag van die bekende kinderstorieskrywer, Hans Christian Anderson. Uit sý pen het die verhale van “Die Prinses en die Ertjie”, “Die Klein Meerminnetjie” en “Die Lelike Eendjie” gevloei.

Ter viering van Internasionale Kinderboekdag het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se inisiatief, die Kundramus-Kunsgalery, Gogga Gedigte, ’n ongelooflike en unieke gedigteboek met kleurryke illustrasies, aan drie Pretoriase laerskole geskenk.

Die boek bevat pragtige illustrasies deur die bekroonde kunstenaar Johan Scholtz, wat werklik die verbeelding aangryp en die goggas op die blad byna lewend laat voorkom. Dit is Scholtz wat hierdie skenking moontlik gemaak het deur die boeke aan Kundramus beskikbaar te stel. Nou kan dit in klaskamers jong verbeeldings inspireer en vermaak.

Op 4 April 2024 het die FAK se Noordelike kultuurnetwerke drie laerskole in die Pretoria-omgewing besoek en dié kinderboek met sy verbeeldingryke rympies oorhandig.

Laerskole Mayville, Pierneef en Totiusdal se Graad R tot Graad 3-klasse is elk ’n leesskat ryker.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder in die Noordelike provinsies, het Donderdag die skole in Pretoria besoek.

“Al die onderwysers was in ekstase oor die mooi boeke en kon nie wag om dit in hulle klaskamers te begin gebruik nie,” sê Rademeyer.

Me. Kruyswijk, die grondslagfase se departementshoof by Laerskool Mayville, het haar dank uitgespreek oor die skenking van die boeke.

“Dankie vir die bydrae wat jul maak tot ons Afrikaanse taal. Ons is dankbaar vir die boekskenking,” sê Kruyswijk.

Sarina Dönges van Laerskool Totiusdal het uit haar nate gebars van opgewondenheid en besluit om sommer dadelik die boekie in haar klaskamer te gebruik.

Dit is dikwels mens se geliefde kinderboeke wat jou as volwassene steeds bybly. ’n Liefde vir taal en vir lees word van kindsbeen af gevorm en boeke soos dié maak dit maklik om opgewonde te raak oor lees.

Die FAK spring graag in om Afrikaans te bevorder en die liefde vir letterkunde aan die brand te steek. Ons jeug is immers ons toekoms en ons taal vir ons kosbaar.