Mediaverklaring

27 November 2023

Dit is 225 jaar sedert die geboorte van die held van die Slag van Bloedrivier.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Andries Pretorius se lewe gevier met ’n toer deur Pretoria. Die stad wat na hom vernoem is.

Lede van die FAK-Kultuurnetwerke in Pretoria het Saterdag 25 November 2023 by die Heldeakker in Pretoria byeengekom en deur die lewe van Andries Pretorius gereis.

“Dit is soms so lekker om herinner te word aan geskiedkundige figure se stories; hulle durf en daad. Dit is húlle bloed wat deur ons are vloei. Dit bevestig eintlik net hoe trots en onbeskaamd ons moet wees op wie ons is en waar ons vandaan kom, maar ook op waarheen ons op pad is.”

Só sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK Kultuurnetwerke in die noordelike streke van Suid-Afrika.

Die groep nuuskieriges het die moederstad platgeloop en aangedoen by sy graf in die Heldeakker, sy ruiterstandbeeld voor die Pretoria Stadsaal, sy beeld wat aan die noordwestelike hoek is van die Voortrekkermonument, asook die Andries Pretorius-monumentreplika in die Historiese Trekroetetuin, ook by die Voortrekkermonument.

Leonie Marais, erfeniskenner, het die toer gelei en interessante brokkies vanuit Pretorius se geskiedenis uitgelig.

Pretorius is op 27 November 1798 te Graaff-Reinet gebore. Hy het die Kaapkolonie verlaat in Oktober 1837, later as die ander Voortrekkers. Uit sy huwelik is sewe dogters en drie seuns vir hom gebore. Welbekend is sy oudste seun, Martinus Wessel Pretorius wat later die staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en ook van die Oranje-Vrystaat was.

“Die meeste van ons ken Pretorius en sy rol tydens die Slag van Bloedrivier. Sy storie eindig egter nie met die oorwinning by Bloedrivier nie. Hy het diep spore in Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap,” sê Marais.

Hierdie toergroep het die bloedige Afrikason trotseer en werklik erns gemaak met hul eie geskiedenis.

“Dit is ’n riem onder die hart om te sien dat die publiek steeds nuuskierig is oor geskiedenis,” sê Marais.

Geskiedenis is oral om ons. Word betrokke by jou naaste FAK-kultuurnetwerk en ontsluit die geskiedenis.

Kontak gerus vir Barry Müller by barry@kultuurtuiste.org.za.