Wat maak ek met ’n historiese grafblad wat omgeval het? Hoe pas ek my kleinood van my oupagrootjie op om vir my kinders se kinders ook ’n item in hul huise te kan wees?

Dit is onder meer van die vrae wat erfeniskenners, Leonie Marais en Annemarie Carelsen, Saterdag vervat het tydens ’n opleidingsessie vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kultuurnetwerke Sentraal.

Dié opleidingsessie is by NG Fonteine in Sasolburg in samewerking met die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) gehou. Tientalle gemeenskapslede het die naweek die geleentheid gehad het om meer te leer oor die bewaring van ons erfenisskatte.

“Een van die waardevolste dinge wat ek geleer het, is om die waarde van ’n item te bepaal en dat waarde in verskillende grade bepaal word. Dit was sinvol dat alles in verband met die erfeniswet gebring is,” vertel Jan-Danie Malan, kultuurnetwerkkoördineerder in die Sentrale streek.

Marais en Carsten het die opleiding uitgebrei met praktiese voorbeelde om die streek te help met hul praktiese projekte, soos om deeglike ondersoek te doen, die projek wetenskaplik te benader, die regte aansoekprosesse te volg en die vordering te dokumenteer.

“Annemarie Carelsen het ons vertel hoe om jou eie kleinode in jou huis te bewaar. Die klein besonderhede waarvan ’n mens soms vergeet, soos om direkte son op die voorwerpe te verhoed, het vir my uitgestaan,” vertel Malan.

Carelsen het onder andere die volgende wenke met die gaste gedeel.

  • Gebruik verskillende lappe vir elke tipe materiaal wat skoongemaak word, byvoorbeeld: gebruik ’n houtlap net vir houtitems.
  • Moet nie metaal (enige silwer, koper, yster, ens.) met jou kaal hande optel nie, daar is suur op mense se hande wat die metaal laat roes.
  • Wees altyd op die uitkyk vir insekte, veral iets wat jou houtartefakte vreet.
  • Gif moet sover moontlik nie op meubels of artefakte gaan lê nie, dit kan jou erfenis beskadig.
  • Vog moet sover moontlik vermy word. Gebruik voginhibeerders wat by winkels beskikbaar is.

Malan is baie dankbaar vir elke persoon wat die geleentheid bygewoon het. “Ons wil ons gemeenskap dien met hierdie geleenthede wat ons aanbied. Hierdie opleidingsessie sal later die jaar ook in Bloemfontein herhaal word.”

Jou ondersteuning kan die FAK help om hande te vat met die gemeenskap om ons erfenis te bewaar: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/.