Op 17 Maart word Sint Patrick’s-dag wêreldwyd gevier, maar vir Orania is dié dag vanjaar ekstra spesiaal. Die FAK het weer baie moeite gedoen om van dié dag ’n sukses te maak.

Die dag is vernoem na Saint Patrick, wat die Christelike geloof na Ierland gebring het. Aanvanklik is dit as ’n Christelike vakansiedag in Ierland gevier, maar met verloop van tyd het dit ontwikkel tot ’n breër kultuurviering van die Ierse taal, tradisies, kos en leefwyse. Die drieblaarklawer word tradisioneel met die dag geassosieer, aangesien Saint Patrick dit gebruik het om die Drie-eenheid van God – Vader, Seun en Heilige Gees – te verduidelik. Tydens die vieringe dra mense groen, as verwysing na die Ierse landskap en in die gees van Ierse nasionalisme.

In Orania het verskeie kultuurorganisasies – die FAK-Noord-Kaap, Orania Kunsteraad en Orania Bewaringstigting – saamgespan om ’n gedenkgeleentheid vir die Iere aan te bied. Die geleentheid was feestelik versier met groen strikke, klere en kos, en is verryk met Ierse musiek en gesprekke oor die dag se betekenis.

Na die opening en verwelkoming het Christiaan van Zyl, verbonde aan die Orania Kunsteraad, gesels oor die Iere se stryd teen die Britte en die historiese band tussen die Iere en die Boere. Hy het verduidelik hoe twee Ierse kommando’s, bestaande uit 400 tot 500 mans, hulself tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) met die Boere se vryheidstryd vereenselwig het.

Met die uitbreek van die oorlog het die Iere ’n manifes opgestel waarin hulle die volgende verklaar het:

“Gaan ons toelaat dat dieselfde lot wat Ierland in puin gelê het, die Transvaal ook tref? Wreek julle, Iere! Ons roep julle op om te veg teen die nasie wat ons mense meer as 700 jaar lank onderdruk. Die Iere moet wrekers en nie mede-samesweerders van sulke misdade wees nie.”

Daarna het lede van die Orania Kunsteraad ’n Ierse seënbede, vertaal in Afrikaans, gesing. Joost Strydom het vervolgens ’n heildronk ingestel op die Iere en hul bereidwilligheid om die Boere in tye van nood te ondersteun. Die drank wat bedien is, was ’n simboliese Afrikaner-Ierse kombinasie: groen mintlikeur vir die Iere en Amarula-likeur, ’n eg Suid-Afrikaanse drankie, vir die Afrikaners. Strydom het beklemtoon dat daar baie uit die Iere se vryheidstryd geleer kan word, aangesien hulle vir 800 jaar onder Britse heerskappy gebuk gegaan het, en het sy heildronk afgesluit met die woorde: “Vryheid is vir diegene met lang asems.”

Die verrigtinge is gesellig afgesluit by ’n restaurant wat spesiaal voorsiening gemaak het vir Ierse bier, groen disse en tradisionele Ierse kos, alles vergesel deur ’n prettige Ierse musiekvasvra.

Cara Tomlinson, organiseerder van die dag en kultuurorganiseerder van FAK Noord-Kaap, het gesê:

“Dit is geleenthede soos hierdie waar bewusmaking van ons geskiedenis en kultuur geskep word. Dit is waar trots gekweek word. Deur ’n ander volk se kultuur te vier, besef ons weer die waarde van ons eie kultuur. Ons mag trotse Afrikaners wees!”