Mediaverklaring

28 Maart 2023

Gerard Moerdijk word onthou met toer deur die Jakarandastad

Gerard Moerdijk (Moerdyk) is op 28 Maart 2023, 65 jaar gelede oorlede. Die FAK bring hulde aan Moerdijk, een van Suid-Afrika se bekendste argitekte.

Moerdijk het sy stempel behoorlik in Pretoria afgedruk met talle geboue wat aan sy kreatiwiteit toegeskryf kan word. Die FAK het op toer gegaan deur die Jakarandastad om Moerdijk se skeppings te aanskou en nuwe waardering te skep vir die man wie só ’n groot invloed gehad het op die silhoeëtte van Pretoria.

Moerdijk is waarskynlik die bekendste as die argitek van Suid-Afrika se bekendste en gewildste toeristebestemming, die Voortrekkermonument. Op Moerdijk se vroegste planne van dié erfenisbaken, verskyn die datum van 1937.

Hy het verder ook geboue vir die Universiteit van Pretoria ontwerp, onder andere die bekende Merensky-biblioteek op dié universiteit se hoofkampus in Hatfield.

Op die toer het personeel van die FAK Moerdijk se eie huis in Muckleneuk besoek, die Ou Moedersbond-Vrouehospitaal in Prinshof, die straat wat na Gerard Moerdijk vernoem is in Sunnyside, Nederduitse Gereformeerde kerkgebou (die Ooskerk), Libertas wat nou Mahlamba Ndlopfu heet en gebou is as die Eerste Minister se woning in Tom Jenkinsstraat. Laastens het dié groep ook die Voortrekkermonument en die FAK-huis, wat tans dien as die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge se hoofkantoor, besoek. Dié huis was tydens die bou van die Voortrekkermonument, die huis van die opsigter.

“Wat ’n voorreg om om in die spore van hierdie fenomenale geskiedkundige figuur te kon stap. Moerdijk is vir my ’n voorbeeld, in die sin dat deur op te bou, kan jy ’n beter toekoms vir die volgende generasie agterlaat.” Só sê Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK se kultuurnetwerke.

André de Bruin, wat tans sy internskap by die FAK doen, vertel: “Moerdijk het veral ’n oog om mooi kerke te ontwerp, hy was die argitek van meer as 80 kerke regoor Suid-Afrika. Elke kerk het sy unieke storie en dit was vir my indrukwekkend om te sien en ervaar.”