Van 9 tot 15 Augustus 2025 vier die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) 150 jaar sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Hierdie historiese mylpaal is op 9 Augustus ingelui met een van die grootste Afrikaanse kultuurbasaars in die land – op die Voortrekkermonument se Markplein. Dié geleentheid vorm deel van ’n jaar van dubbele viering, want vanjaar word Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal ook herdenk.
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig – ’n daad van moed en visie wat die grondslag gelê het vir Afrikaans as ’n skryftaal. Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was die GRA die eerste georganiseerde poging om Afrikaans as ’n taal te vestig en te beskerm.
“Vir die FAK is dit betekenisvol omdat ons juis in die voetspore van daardie pioniers stap. Hulle het ’n minderheidstaal bevorder in ’n tyd toe dit verwerp is. Ons taak bly dieselfde: om die Afrikaanse taal en kultuur met oorgawe en kreatiwiteit lewend te hou – vir vandag en vir die geslagte wat volg,” het Langner gesê.
Eg Afrikaanse basaar vir oud en jonk
Meer as 100 stalletjies het die Markplein Saterdag laat bruis met geure, geselskap en handwerk, en alles wat Afrikaans in hart en siel is. Afrikanergunstelinge soos pap en kaiings, koeksisters en pannekoek was in oorvloed, en tussen die handewerk, boeke en mooi goed het besoekers lank by stalletjies vertoef.
“Hierdie basaar bring Afrikanerkultuur op verskeie vlakke bymekaar; in kos, speletjies, handwerk en vermaak,” sê Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK. “Ons wou hê dat besoekers moes wegstap met die gevoel dat die Voortrekkermonument ’n plek is waar jonk en oud trots kan wees op hul herkoms. ’n Ware Kultuurtuiste.”
Kultuurkarakters en kinderpret
Die Boekeparadys het Afrikaanse publikasies van gevestigde uitgewers soos LAPA Uitgewers en Protea Boekhuis op een plek saamgebring – van fiksie en geskiedenis tot jeugliteratuur. Boekliefhebbers se leeslus is behoorlik aangewakker. Jong lesers kon na voorlesings van bekende sprokies. Die kersie op die koek was die spesiale verskyning deur Bollie, die geliefde blou storieboekhaas.
Oom Paul en Tannie Gezina, die twee bekende kultuurgelukbringers van die Voortrekkermonument, het saam met oud en jonk in die feestelikheid gedeel. Daar was ook gesigverf, poppekasvertonings en ’n modeltreinuitstalling wat veral die jongklomp geboei het. Besoekers kon ook deur die geskiedenis reis deur leidrade in die Erfenisstiging se Ontsnapkamer uit te pluis.
Jongmense bou verder
Die FAK-Jeug het jong volwassenes aangemoedig om trots op hul taal te wees. “Jong Afrikaners is die nuwe generasie taalbouers. Hulle leef en deel Afrikaans op hul eie maniere – in gesprekke, digitale media en kreatiewe uitinge,” sê Tyrone Kriek, voorsitter van die FAK-Jeug. “Hierdie fees wys dat daar vir ons ’n plek is om Afrikaans met trots en passie te leef.”
Kultuurikone en kreatiewe vieringe
Kooroptredes deur die Alberton Manne- en Vrouekoor het die oggend op die Markplein met Afrikaanse klanke gevul en die dag se feestelike toon gevestig.
’n Handvlytskou deur Die Dameskring het fyn appliekwerk, geborduurde artikels, kant, keramiek en kwilte ten toon gestel – ’n treffende herinnering aan Afrikanervroue se onmisbare rol in huisindustrieë en handwerk.
Terselfdertyd het ’n dubbele uitstalling in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal plaasgevind. ’n Kunsuitstalling deur die BCVO, wat jong kunstenaars die geleentheid gee om hul talente te ontwikkel, en ’n kwiltuitstalling wat die ryk tradisie van hierdie handwerk vier.
Op die Markplein het onderhoudstylgesprekke met legendes soos Carike Keuzenkamp en Jannie du Toit plaasgevind, waartydens hul onskatbare bydrae tot die Afrikaanse liedkuns en kultuur gevier is.
Jan Blohm se optrede en die Skryf’it-liedjieskryfkompetisie se finaal het die dag op gepaste wyse afgesluit. Dit was ’n ode aan die kunstenaars wat Afrikaanse musiek oor dekades gevorm het én aan die nuwe stemme wat dit verder dra.

