’n Hoopvolle en geskiedkundige gebeurtenis het hom op die 200ste herdenking van die geboorte van pres. Paul Kruger afgespeel toe ’n brons standbeeld van dié eertydse staatsman van die ZAR amptelik op 10 Oktober op Orania in die Noord-Kaap onthul is. Meer as 2 000 mense het in die feestelikheid gedeel om Kruger, die persoon wat die Afrikaner se strewe na vryheid waarskynlik die kragtigste vergestalt, by sy nuwe veilige tuiste te verwelkom.

Lida Strydom, Orania-burgemeester, onthul die Krugermonument op Orania. (Foto: Cherise Barnard)
“’n Vrye volk het opgestaan op die pad na Orania.” Dié woorde uit die “Orania Roepstem” is ook die woorde waarmee Lida Strydom, burgemeester van Orania, die nuwe standbeeld onthul het. Die Kruger-standbeeld is ’n ewebeeld van die een op Kerkplein in Pretoria, weeg 1,5 ton en troon – met sy voetstuk bygereken – 10 m bo die Orania-stadsplein uit.
Die standbeeld is simbolies deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, aan die Orania-gemeenskap oorhandig. Riaan Jacobs, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, het die beeld namens die gemeenskap in ontvangs geneem. Vir Jacobs en die Orania-gemeenskap is dié monument ’n baken van toekomshoop en verantwoordelikheid, maar ook ’n verklaring dat ons hier is en ons Afrikanerskap lééf.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, tydens sy toespraak op 10 Oktober. (Foto: Magdeleen Kleynhans)
Die onderskeie sprekers het verwys na die simboliese waarde van Kruger in Orania. Die monument is, net soos Kruger sy lewe geleef het, ’n vergestalting van Afrikanervryheid, die republikeinse strewe en geanker in ’n diep geloofsafhanklikheid.

’n Opgewonde skare mense by die onthulling van die Krugermonument. (Foto: Cara Tomlinson)
“Ons staan vandag by Kruger as die simbool van ’n nuwe begin,” was Langner se openingswoorde toe hy die standbeeld namens die FAK aan Orania oorhandig het. Hy het verwys na die nuwe pad wat in Afrikaners se harte oopgebreek is deur die boodskap wat die standbeeld se reis deur verskeie dorpe vanaf die Voortrekkermonument tot in Orania gebring het: Paul Kruger bring weer sy volk bymekaar.
Die program is deur verskeie insiggewende onderwerpe ingekleur. Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, het die ontwikkeling van die Orania-stadskern toegelig waar Kruger sentraal sal staan. De Klerk het na herlewing verwys – nie net van die Krugermonument nie, maar ook van die Afrikanervolk. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het ’n groeteboodskap namens die Krugergenootskap gebring en gesê die kragtige boodskap is vorentoe – vorentoe in ons strewe na vryheid.

Die Orania-gemeenskapskoor sing die “Orania Roepstem”. (Foto: Cherise Barnard)
Die Krugermonument is deur Afrikaners reg oor Suid-Afrika moontlik gemaak. Simboliese stene is verkoop om die koste van die monument te dra. Elkeen wat ’n simboliese steen gekoop het, se naam word op die monument verewig vir geslagte wat kom. Dr. John Strydom, voorsitter van die Orania Beweging, het die ingesamelde bedrag aan die Stadsboufonds oorhandig.

Bo-Karoo Opleiding se studente met Orania-vlae. (Foto: Cherise Barnard)
“Vir die Orania Beweging is die trek van die Krugermonument na Orania simbolies baie belangrik, eerstens vir die feit dat oom Paul weer tussen sy mense staan en tweedens dat Orania-ondersteuners en medewerkers dit moontlik gemaak het om die monument op te rig. Die projek is vanuit die mense, die volk en almal wat bygedra het. Hartlik welkom aan oom Paul en welkom aan elke persoon wat vandag ook in hul harte ’n Oraniër is,” het Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, gesê.

Toeskouers tydens die onthulling van die Krugermonument. (Foto: Cara Tomlinson)
Die sanger, Ruhan du Toit het sy immergewilde lied “Monumentaal” gesing, waarna ’n koor vanuit die Orania-gemeenskap die “Orania Roepstem” gesing het.
“Vir my was hierdie ’n trotse en dankbare oomblik. Ons volk het tuisgekom en is weer verenig in Orania,” vertel Cara Tomlinson, FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap. “Ek stap vandag van die nuwe plein af met meer moed, meer krag en meer ywer om te bou. Ek is dankbaar vir Godvresende volksleiers soos Paul Kruger in wie se voetspore ons kan volg.”

Die Krugermonument pas ná die onthulling. (Foto: Cherise Barnard)
Die vreugdesvure het ná die plegtigheid hoog bly brand met ’n karnavaloptog met die tema “ons erfenis” en Ruhan du Toit wat die gemeenskap met van sy grootste treffers getrakteer het.
