Mediaverklaring

23 Februarie 2024

Die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria is nou veilig agter splinternuwe heinings en mure, sodat die boewe wat buite rondloop nie weer toegang tot die waardevolle erfenisskatte het nie.

Verskeie grafte is al geskend en gevandaliseer, onder meer oudpresident Paul Kruger se borsbeeld wat gesteel is. Die FAK het die borsbeeld met ’n replika van die oorspronklike vervang.

Vir twee weke lank het Liversage Boumaatskappy in samewerking met die FAK gewerk om die stukkende heinings te herstel en nuwe mure te bou. Dié projek is op 22 Februarie voltooi.

“Die beskadigde heinings by die Heldeakker het ’n groot risiko ingehou,” sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK. “Die heinings wat herstel is, stel ons in staat om voort te gaan met die volgende stappe om die Heldeakker nuwe lewe te gee.”

Liversage Boumaatskappy het die FAK gekontak om te hoor hoe hulle betrokke kan raak by die Heldeakker. Toe hulle hoor van die stukkende heinings, het hulle ’n groot skenking gemaak om dit te herstel.

“Ek is baie lief vir erfenis,” sê direkteur William Liversage. “Dit is tyd om met trots te sê ons is lief vir ons geskiedenis en trots op wie ons is.”

“Dit is goed dat die gemeenskap ons stem om hulp hoor en saamstaan. Dit wys die publiek is bereidwillig om te help,” sê Rademeyer.

Die FAK beplan ’n paar opwindende projekte verder, noudat die Heldeakker beveilig is. Daar gaan byvoorbeeld ’n QR-kode-bord langs elke graf geplant word waar die besoeker meer inligting oor die persoon en sy lewe kan kry. Die eerste QR-kode-bord word reeds die 2de Maart by Paul Kruger se graf geplant.

Verder beplan die FAK om ’n museum by die Heldeakker op te rig met nie-waardevolle items soos afskrifte van foto’s en briewe van persone wat daar begrawe is, om meer “lewe” aan die begraafplaas te gee.

“Ons doel is om seker te maak dat die erfenis voort kan leef en dat dit behoue bly vir die nageslag. Ons sien ook ’n groot toerisme-oplewing van die publiek wat nou die Heldeakker kom besoek en betrokke raak,” sê Rademeyer.

Die Heldeakker is die eerste Saterdag van elke maand van 09:00-13:00 oop vir die publiek om te besoek.

Word ’n vriend van die FAK en help ons om jou erfenis te beskerm: