Mediaverklaring

8 Oktober 2023

Oom Paul se verjaardag is om die draai en daarom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Voortrekkermonument (VTM), vir die afgelope week gesorg dat die Heldeakker in ons pragtige Jakarandastad skoon en netjies is vir die verrigtinge wat op 10 Oktober daar gaan plaasvind.

Die Heldeakker-samewerkingsinisiatief, waarvan die FAK maar net een instansie uitmaak, tesame met onder andere die Krugergenootskap, AfriForum en die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys het Saterdag, 7 Oktober weer by die Heldeakker byeengekom en die hittegolf trotseer, ter wille van ons kultuurerfenis. Dit is die tweede amptelike opedag waarby die publiek uitgenooi word om die Heldeakker te besoek en sou hulle braaf genoeg wees, ook ’n hand by te sit. Hierdie opedae vind maandeliks op die eerste Saterdag van die maand plaas.

Vir jare was dié belangrike geskiedkundige baken nie vir die publiek toeganklik nie. Met dié opedae is dit veilig en maklik om ’n aandeel te hê aan erfenisbewaring.

Só is dit ook dat Backyard Pots and Plants, asook Culterra ook húl aandeel het aan die Heldeakker en het hulle vandag gesorg dat die area rondom die Kruger-familie spoggerig lyk.

“Stuk vir stuk herstel ons die Heldeakker na iets wat waarlik die naam eer aandoen. Vir so lank was die Heldeakker nie toeganklik nie en ’n oop buffet vir kwaaddoeners en het gereeld onder een of ander vorm van vandalisme gely. Saam met die krag van die gemeenskap word daar eer gebring aan ons helde, soos Kruger, wat tot vandag toe vir ons ’n groot inspirasie bly.”

Só sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK.

Quentin Meyer, die opsigter van die Heldeakker wat volgens dit Tshwane-metroraad se “Adopt a spot”-inisiatief in hierdie amp aangestel is, sê dat daar iets mooi uit elke skoonmaakaksie na vore kom. Volgens Meyer is Paul Kruger se graf so mooi opgeknap dat dit “op sy beste lyk in jare”.

Meyer het twaalf jaar gelede betrokke geraak by die Heldeakker en sy droom om die Heldeakker te herstel, word voor sy oë verwesenlik.

“Om te sien jou droom word stadig maar seker waar is wonderlik! Die Heldeakker verdien soveel respek en hy begin dit te kry.”

Dinsdag, 10 Oktober se verrigtinge word gereël deur die Krugergenootskap en skop om 14:00 by die Heldeakker af met kransleggings, gevolg deur ’n diens by die graf. Individue en instansies word uitgenooi om die verrigtinge by te woon en bywoning hiervan kan bevestig word by admin@krugergenootskap.org.