Die historiese Kruger-standbeeldtoer het Woensdag, 25 September, sy stempel op Rustenburg afgedruk waar president Paul Kruger ‘n groot invloed uitgeoefen het. Hy is deur die plaaslike gemeenskap met groot warmte en trots ontvang. Die toer, wat deel vorm van die aanloop tot die Paul Kruger 200-feesvieringe in Oktober in Orania, het vroegoggend om 08:30 by Boekenhoutsfontein, die historiese plaas van president Paul Kruger net buite Rustenburg, aangekom.
Die standbeeld is simbolies voor die Kruger-woonhuis regop getel – ’n huis wat in 1873 gebou is dien steeds as ’n belangrike erfenisbaken. Daarna is die program in die skooltjie op die terrein met skriflesing en gebed geopen.
Die toergroep bestaan uit 22 persone, insluitend lede van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Orania Kunsteraad (OKeR)-toneelgroep, Orania Beweging, Orania Ontwikkelingsmaatskappy, veiligheidspersoneel en ’n logistieke span. Die FAK se kultuurnetwerk in Rustenburg het die geleentheid georganiseer en bemark, en die ontvangs was uit die staanspoor hartlik.
Na die plegtigheid by Boekenhoutsfontein het die groep na Kedar Heritage Lodge beweeg, waar die eienaar en gasvrou, Sarah Forsythe die gaste verwelkom het. Die lodge huisves die grootste privaat Anglo-Boereoorlog-wapenversameling ter wêreld, ’n besonder indrukwekkende erfstuk wat ’n sterk boodskap van erfenisbewaring uitdra.
Die toergroep het vervolgens by die Hervormde Kerk in Rustenburg aangedoen, waar ds. Stephan Botha, voorsitter van die FAK Kultuurnetwerk in Rustenburg, die besoekers verwelkom het. Die dames van die gemeente het ’n tradisionele kerrie en rys-ete voorberei en die gaste om feestelik gedekte tafels in groen, rooi, wit en blou onthaal. Die hartlikheid van hierdie ontvangs het die verbintenis tussen geloof, kultuur en gemeenskap onderstreep.
Die laaste hoogtepunt was die besoek aan die NG Moedergemeente in Rustenburg, waar ’n kranslegging by die sittende beeld van Paul Kruger plaasgevind het. Hier het die Voortrekkers en AfriForum hul hulde gebring. Daarna het die program binne in die saal voortgegaan met die opvoering van die toneelstuk Kruger breek die pad oop, bygewoon deur sowat 70 mense.
As deel van die program het dr. Carel Boshoff sy voordrag, Kruger in Konteks gelewer, waarin hy die historiese en kulturele nalatenskap van Paul Kruger verder uitgelig het. Hy het ook sertifikate aan ds. Stephan Botha en Sarah Forsyth oorhandig as erkenning vir hulle bydrae tot erfenisbewaring.
“Die Rustenburg-gemeenskap het ons hartlik ontvang en baie welkom laat voel,” sê Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap. “Hierdie mense is regtig uitsonderlik en het heeltemal in die Kruger-projek ingekoop. Ons kon in hierdie groep mense elf stene vir Oom Paul se voetstuk op Orania verkoop, waarvoor ons baie dankbaar is. Op die einde van die dag speel finansies ’n deurslaggewende rol in die sukses van so ’n projek.”
Die besoek aan Rustenburg was ’n kragtige herinnering aan die lewende nalatenskap van president Paul Kruger en het gewys hoe plaaslike gemeenskappe hul rol speel in die bewaring en viering van Afrikaanse erfenis. Met sy reis deur Suid-Afrika is die Kruger-standbeeld nie net ’n gedenkteken nie, maar ook ’n simbool van gemeenskap, kultuur en samewerking wat mense opnuut bymekaarbring.
Daar word ook ‘stene’ op die toer verkoop om geld in te samel vir standbeeld se voetstuk op Orania. Besoek Orania.co.za/paul-kruger om jou steen te koop.






