Mediaverklaring

9 Februarie 2024

Na byna drie jaar kan die Carolina Burgermonument uiteindelik tot sy vorige glorie herstel word. Waar ander afbreek, sal die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) weer bou.

In 2021 is die kop van die Burgermonument in Carolina afgekap en die beeld gevandaliseer tydens die Zuma-optogte wat in hierdie tyd plaasgevind het. Sedertdien is die herbou van die monument ’n deurlopende projek en is die FAK trots dat die beeld uiteindelik weer herstel word.

“Die Burgermonument word nie net herstel nie, maar ook verskuif na ’n area waar dit veilig bewaar kan word en waar dit nie weer so maklik ’n slagoffer van vandalisme sal wees nie.”

Só sê Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK.

“Ongelukkig neem die herstel van erfenis dikwels veel langer as om dit af te breek. Erfeniswette vereis dat verskeie stappe geneem moet word. Die FAK moes eerstens die inkoop van die gemeenskap kry oor die skuif van die beeld. Daarna moet toestemming by owerhede verkry word,” sê Müller.

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike streke van Suid-Afrika, asook Leonie Marais, erfenishulpbronadviseur van die FAK, was teenwoordig en het verseker dat die afbreekproses stap vir stap volgens die wetlike regulasies verloop.

“Hierdie beeld is belangrik, om net soos ander beelde wat na die Anglo-Boereoorlog opgerig is, ’n gevoel van trots te kweek. Dit is nie net om ons te herinner aan die gebeurtenis nie, maar plant ook ’n saadjie en skep ’n identiteit, juis omdat dit Afrikaners herinner aan ons identiteit. Hierdie beeld vertolk die verhaal van die Slag van Spioenkop, waartydens die Boere swaer verliese gely het. Ons moet altyd onthou van die opofferings wat ons voorouers gemaak het om vir ons ’n tuiste te bou,” sê Müller.

Rademeyer, wat teenwoordig was met die verskuiwing en herbou van die monument, sê vanuit gesprekke met die publiek rondom die monument kon hy aflei dat daar ’n totale wanpersepsie is oor die agtergrond van die beeld.

Volgens Rademeyer het lede van die publiek verstaan dat die monument uit die apartheidsera dateer. Dié monument is reeds in 1930 opgerig, lank voor apartheid aangekondig is. Ander was onder die indruk dat dit ’n beeld van Piet Retief is. Die beeld is opgerig ter herdenking van die Slag van Spioenkop uit die Anglo-Boereoorlog.

“Ons storie, ons geskiedenis word dikwels misken deur ’n vervalle regering wat nie die Afrikaner se waardigheid in ’n gemeenskap wil herken nie. Dit is angswekkend om te weet dat ons storie elke dag, stukkie vir stukkie, uitgevee word.”

Die monument word op 31 Mei 2024 onthul. Die FAK nooi die publiek in die omliggende areas uit om die herbou van ons kosbare erfenis saam met die FAK op die herdenking van die Vrede van Vereeniging, die einde van die Anglo-Boereoorlog, te vier.

Die FAK sal die verdere afbreek van Afrikanererfenis nie duld nie, en daag gemeenskappe uit om deel te word van die FAK se boukultuur. Die herbou van hierdie monument skep hoop vir duisende ander gemeenskappe in Suid-Afrika waar vandalisme, miskenning van erfenis en die blote versuim van die regering se plig om erfenis te beskerm, aan die orde van die dag is.

“Aksies soos hierdie is werklik belangrik. Dit is van kardinale belang dat die Afrikanergeskiedenis elke dag vertel word, dat ons trots kan wees oor ons herkoms, dat ons weer ’n sterk Afrikaneridentiteit kan bou,” sê Rademeyer.

Jy kan die verskil maak, so word deel van die FAK se kultuurnetwerke regoor die land.

Kontak gerus vir Jaco Cilliers, hoof van kultuurnetwerke by die FAK, om jou deel te doen vir die bewaring van erfenis in Suid-Afrika. jaco@kultuurtuiste.org.za