Mediaverklaring

12 Februarie 2024

Geen hittegolf kan keer dat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke nie hul passie vir erfenisbewaring kan uitleef nie.

Die afgelope naweek is die Kroonstad-konsentrasiekampkerkhof deur die FAK se Kroonstad en Vaal kultuurnetwerke in samewerking met verskeie organisasies skoongemaak.

“Hierdie konsentrasiekampkerkhof was groot met 2500 mense. Meer as die helfte van die oorledenes is begrawe in hierdie begraafplaas en alhoewel daar net 1288 name op hierdie plate verskyn, word geskat dat daar veel meer vroue en kinders dood is. Mense het ’n behoefte om konsentrasiekampe te besoek en wanneer dit nie in stand gehou word nie, kan die konsentrasiekampkerkhof nie besoek word nie.”

Só sê Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK in die sentrale streke van Suid-Afrika.

25 mense van verskeie organisasies, onder andere lede van Valschrivier Erfenis, Die Voortrekkers en AfriForum, het die groot taak aangepak om die Kroonstad-konsentrasiekampkerkhof netjies te maak en het die hitte trotseer om weer eer te toon aan die vroue en kinders wat weens haglike omstandighede in hierdie konsentrasiekamp gesterf het.

Dries Otto, die voorsitter van Valschrivier Erfenisstigting het sy dank uitgespreek oor die naweek se verrigtinge.

“Ek is dankbaar vir elke bydra. Oor die jare het hande al minder geword en die nood meer,” sê Otto.

Die FAK beoog nog vele soortgelyke aksies op hierdie terrein.

Volgens Malan is die skoonmaak van hierdie terrein uitdagend. Weens die goeie reënseisoen kry onkruid die oorhand. Die FAK doen ’n oproep aan die publiek in Kroonstad en omliggende areas om hand by te sit en te verseker dat ons kosbare kultuurerfenis nie verniel nie.

Om betrokke te raak by die projek skakel Jan-Danie Malan by 082 965 7002.