Mediaverklaring

28 Februarie 2024

40 hoërskoolleerlinge het die naweek hul plek as erfenisbewaarders in die geskiedenis verewig toe hulle die Turffontein-konsentrasiekamp, in Gauteng, se terrein skoongemaak het.

Dié leerlinge van Hoërskool Die Anker, in Brakpan, het hande gevat met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke en moue opgerol om die belangrike taak aan te pak.

“Vir die eerste keer het hierdie kinders geleer waar hulle vandaan kom, wat die geskiedenis van konsentrasiekampe is. Aan die einde van die dag wou van hulle nie eers huis toe gaan nie.”

Só sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke van Suid-Afrika.

“Dit is asof hulle regtig uitgehonger is van die kennis van waar hulle vandaan kom, wat hulle identiteit is,” sê Rademeyer.

Dié graad 11-leerlinge wat die konsentrasiekamp skoongemaak het, is trots op wat hulle kon vermag het.

Een van die leerlinge, Abigail Botha, het werklik gevoel dat sy ’n verskil maak.

“Ek het nie baie van erfenis geleer toe ek ְ’n kind was nie en ek sou dit waardeer het as iemand my daarvan geleer het. Dit is verskriklik interessant vir my en ek voel dit moet deel wees van elke kind se lewe,” sê Botha.

Theo Lombard glo dat jongmense meer betrokke moet wees by erfenisbewaring.

“As hulle (ons voorouers) nie hier was nie, was ons nie hier nie. Ek het kom help om hier skoon te maak vir húlle … as een begin, is dit ’n voorbeeld vir ander,” meen Lombard.

Hierdie leerlinge se skool is naby aan die konsentrasiekamp geleë wat hulle met soveel ywer skoongemaak het. Hulle het egter voor die skoonmaakaksie oor bittermin kennis van konsentrasiekampe of die Anglo-Boereoorlog beskik. ’n Liefde vir erfenisbewaring word gekweek deur die oorvertelling van die geskiedenis.

“Wanneer jy staan op historiese grond, het mens net ’n ander konneksie met die historiese gebeurtenis wat daar afgespeel het. Daarom is dit belangrik dat ons erfenisbakens skoon, netjies en toeganklik moet wees vir die publiek,” sê Rademeyer.

Ons erfenis gaan verlore. Staan saam en maak die FAK se hande sterker om die verdere verwoesting van ons kosbare en onvervangbare kultuurerfenis te keer.

Raak betrokke by jou naaste kultuurnetwerk of word ’n vriend van die FAK.

Jy kan die verskil wees.