Mediaverklaring

7 Julie 2023

Die toekoms vir die Heldeakker in Pretoria is blink. Agttien instansies het geantwoord op die roepstem van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en het gister (6 Julie 2023) vergader om ’n plan van aksie vir die Heldeakker in plek te sit.

Quentin Meyer is verlede week as die opsigter van die Heldeakker aanvaar as deel van die Tshwane-metroraad se “Adopt-a-spot”-inisiatief. Nou, vir die eerste keer in byna 30 jaar is die Heldeakker weer in Afrikanerhande.

Meyer sê hy wil “die trots terugbring wat die Heldeakker verdien.”

Saam kan ons ’n groter impak en verskil maak. Ironies dat dié vergadering, dag en datum, 47 jaar na die eerste Konferensie vir Kultuurrade gehou is, waar verskeie kultuurorganisasies vir die eerste keer ontmoet het om tot ’n groter doel te werk.

Byna 50 jaar later is dít steeds hoe die Afrikaner te werk gaan om sy eie te beskerm en bewaar.

Organisasies wat die vergadering bygewoon het, het dié oorwinning gevier en voorstelle gemaak vir die optimale ontwikkeling en verfraaiing van die terrein.

Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap sê dat die projek oor meer as net die instandhouding van die Heldeakker gaan.

“Dit gaan oor die geweldige simboliese waarde van identiteit; ons bewaar wat ons s’n is.”

Al die betrokke partye het hul opgewondenheid oor die projek uitgespreek.

Die instansies wat die vergadering bygewoon het, is:

  • Die FAK
  • Die Voortrekkermonument
  • Die Erfenisstigting
  • Vryheidsfront Plus
  • Die Krugergenootskap
  • Solidariteit Jeug
  • Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
  • Die Commonwealth
  • AfriForum
  • Solidariteit Helpende Hand
  • Die Genootskap vir Handhawing van Regte Afrikaans (GHA)
  • Die Rapportryers
  • Bergenbos Voortrekkerkommando
  • Suid-Afrikaanse Weermagveterane
  • Wapadrand Volkspelelaer
  • Polkadraai Volkspelelaer
  • Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO)
  • Laerskool Pierneef

Die volgende punte is bespreek en is voorlopig die beplanning:

  • Elke eerste Saterdag van ’n nuwe maand sal die Heldeakker oop wees vir die publiek om te besoek en selfs hand by te sit met die Heldeakker se onderhoud.
  • Die Heldeakker gaan verdeel word in “seksies” en elke instansie sal verantwoordelik wees om sy seksie te onderhou.
  • Die Erfenisstigting gaan ook bystaan met bewaringsopleiding.
  • Inligtingsborde gaan opgesit word, soos rigtingaanwysers en grafaanduidings, asook ’n terreinuitleg.
  • ’n Bestuurspan vir die tuin gaan opgestel word om ’n algehele eenvormigheid te kweek.
  • Toere gaan op die been gebring word vir die besoek van die Heldeakker en die geskiedenis daarvan sal vertel word.
  • Die FAK gaan aansoek doen by die Suid-Afrikaanse Erfenisraad (SAER) om permitte, sodat die grafte, sowel as die kerkie op die terrein gerestoureer kan word.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK noordelike provinsies, sê: “Dit is weereens ’n bewys van die krag van samewerking tussen instansies en die verskil wat ons kan maak. Meer as agttien instansies het bymekaargekom om Quentin se hande sterk te maak en hom te ondersteun in die groot taak wat hy met trots aanpak.”

Ander instansies is steeds welkom om by hierdie saak betrokke te raak. Kontak gerus vir barry@kultuurtuiste.org.za.