Mediaverklaring

27 April 2024

Terwyl ons erfenis vernietig word, en ons beelde gevandaliseer en afgebreek word, is ons besig om nuwe oorspronklike beelde te bou, asook replikas van bestaande beelde op te rig en te bewaar in ’n veilige omgewing.

Op 27 April 2024 vier die Kultuurtuiste Internasionale Beeldhoudag.

“Vandag, op Internasionale Beeldhoudag, wil ons met dankbaarheid terugkyk na al die oorspronklike beelde wat ons tot stand gebring het en ons beeldhouers bedank vir hul bydrae tot ons erfenis. ”

So sê Barry Müller, kultuurhoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

In die laaste drie jaar het die FAK in samewerking met die Voortrekkermonument van ons land se voorste beeldhouers genader om nuwe beelde te ontwerp en te bou om ons geskiedenis te vertel en die kultuuraanbod uit te brei. Daar is van 2021 af minstens 25 oorspronklike beelde op die terrein onthul.

Hierdie beelde staan regoor die terrein, van die FAK-Liedjietuin, tot die Historiese Trekroetetuin, die Troostuin en die Erfenisstigting. Beeldhouers Jacques Müller en Jaco van Niekerk het ’n groot aandeel in die meeste van hierdie beeldhoukuns.

“Baie mense sal nooit die geleentheid kry om deur die land te reis en na die oorspronklike beelde te kyk waar hulle opgerig is nie. Hierdie gee hulle die geleentheid om minstens die replikas alles op een, veilige plek te kan sien. Hier kan hulle die Groot Trek in sy volle glorie verstaan en hopelik van voor af leer waardeer,” sê Barry Müller.

Jacques Müller het keer op keer gesê dat dit vir hom ’n groot eer en voorreg is om hierdie beelde te kan maak en so ook sy bydrae tot die geskiedenis kan verewig.

Muller het “Die saaier”-beeld gemaak wat aan die Bybelgenootskap oorhandig is tydens die 90-jaar vieringe van die Bybel in Afrikaans. ’n Ander hoogtepunt van Müller, is dat hy ’n kopbeeld van Gé Korsten gemaak het, wat in die FAK-Liedjietuin onthul is.

Jaco van Niekerk, wat die meeste van die beelde in die Trekroetetuin gemaak het, is ook ongelooflik trots op sy aandeel.

“Ek het die geleentheid om ’n deel van die geskiedenis uit te beeld en dit is werklik ’n enorme voorreg om hierdie beelde te kon maak,” sê Van Niekerk.

Daar is tans 14 beelde in die Trekroetetuin wat Groot Trek-gebeurtenisse, -helde en -replikas verteenwoordig. Onder hierdie beelde is die replika van die Bybelmonument en die Estcourt-monument wat Bloukrans verteenwoordig. Oorspronklike beelde is die Grietjie Prinsloo-beeld, ’n beeld van die Liebenberg-kinders, Piet Uys en Dirkie Uys, en Paul Kruger as kind waar hy ’n leeu skiet.

In Estcourt (KwaZulu-Natal) is ’n vervalle mosaïek wat die storie van die Bloukransmoorde vertolk. Hierdie mosaïek is in 1988 onthul en deur ’n vrou van Italiaanse afkoms, Vera Giovitto, kunstig gemaak.

Die FAK het vir meer as twee jaar gepoog om hierdie erfenisskat in bewaring te neem, maar is keer op keer deur die plaaslike munisipaliteit verhoed. Dit is tóé wat die FAK die replika laat maak het, wat nou, groter en mooier, in die Trekroetetuin van die Voortrekkermonument pryk.

Giovitto en haar dogter, Marina Giovitto Ehlers van Mosaic Arts, het die spesiale onthullingseremonie by die Voortrekkermonument bygewoon.

“Dit is baie belangrik om die emosie behoorlik in die kunswerk uit te beeld. Dit kan soms dae neem om net ’n gesig van ’n figuur klaar te kry,” vertel Vera Giovitto.

Marina Giovitto het ook die replika geskep van die mosaïek wat in die Louis Trichardt-gedenktuin in Maputo aangetref word, en wat in 2021 in die Trekroetetuin onthul is.

Nic Grobler, een van Suid-Afrika se voorste beeldhouers het tydens die opening van die VTM-Troostuin in Februarie, vyf oorspronklike beelde aan die monument geskenk om troos te bring aan die mense wat hul geliefdes se nissies besoek.

“Met my beeldhou probeer ek visualisering van die boodskap van die woord moontlik maak,” sê Grobler.

Die vyf beelde wat Grobler aan die monument geskenk het, is getitel: “Die prys is betaal,” wat Jesus se hand met die spyker in uitbeeld, “Begin ’n nuwe lewe” wat die gelykenis van die verlore seun uitbeeld, “Sing lofliedere” wat Paulus en Selias in die tronk verteenwoordig, “God is daar as jy jou greep verloor het”, is een hand wat deur ’n groter hand vasgehou word en “Hernuwe soos ’n arend” is die beeld van ’n visarend wat sy vangs maak.

Ander oorspronklike beelde is onder andere ’n kopbeeld van Paul Alberts, die Voortrekkerkinders-beeld wat voor die Pioniersentrum uitgestal word en die “Toekomsbouer” wat in die museumteater gesien kan word. Hierdie beeld wys hoe ’n Trekkervrou haar voor die ploeg inspan na die Anglo-Boereoorlog.

Kultuurorganisasies soos die Voortrekkermonument en die FAK wil nie net ons geskiedenis en erfenis beskerm nie, maar ook daarop voortbou en uitbou. Ons is trots op elke nuwe beeld wat ons vir die nageslag behoue kan laat bly.