Christi Chabant het onlangs die jongste kunstenaar tot nog toe geword wie se werk in die FAK-VTM-Kunsgalery in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument uitgestal word.

Volgens Marize Möller, kurator van dié kunsgalery, getuig Chabant se werk nie net van ’n vars en kreatiewe energie nie, maar ’n diep bewussyn van haar erfenis.

Marize Möller, kurator van die FAK-VTM-Kunsgalery, deel ’n oomblik met Steve Hofmeyr. (Foto: Marianne Visser)

“Chabant het twee van die FAK-VTM-Kunsgalery se slypskole, aangebied deur gesoute kunstenaars Elsa Cornelissen en Kobus Möller, bygewoon en ook deelgeneem aan Uitstal – ’n platform waar opkomende kunstenaars hul kunswerke aan ’n breër gehoor bekend kan stel,” sê Möller.

Ná haar deelname aan Uitstal en ’n streng keuringsproses het Chabant op 27 die jongste kunstenares in die galery geword. Sy fokus veral op die natuur en wildlewe.

Chabant het op Erfenisdag op 24 September ’n skildery getiteld Durf om anders te wees ná sy optrede by die Voortrekkermonument aan Steve Hofmeyr geskenk.

Hierdie kunswerk is meer as net ’n visuele uitbeelding; dit dra ’n kragtige boodskap. Chabant verduidelik dat sy die skildery geskep het met die doel om mense aan te moedig om dapper, uniek en onkonvensioneel te leef. “Ek hoop dat kykers daardeur herinner sal word dat ware krag in die moed lê om nie altyd die normale roete te volg nie, maar om met oortuiging en integriteit te leef,” sê sy.

Christi Chabant het haar skildery getiteld Durf om anders te wees aan Steve Hofmeyr geskenk ná sy optrede op Erfenisdag by die Voortrekkermonument. (Foto: Marianne Visser)

In haar motivering koppel sy hierdie boodskap aan Steve Hofmeyr, wat bekend is as kampvegter vir die behoud van die Afrikaanse taal, kultuur en geloof. “Hofmeyr beliggaam die eienskappe van durf en standvastigheid, en my geskenk is ’n huldeblyk aan sy bereidwilligheid om op te staan vir dít waarin hy glo, selfs al is hy teen die stroom,” sê sy.

“Die skenking aan Hofmeyr beklemtoon die rol van jong kunstenaars in erfenisbewaring,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Voortrekkermonument. “Chabant se deelname en bydrae bevestig dat die jeug ’n lewende stem het in die voortsetting en bewaring van die Afrikaanse kultuur.

“Die FAK-VTM-Kunsgalery vier nie net talent nie, maar ook die krag van kuns as instrument om identiteit, moed en geloof uit te druk. Chabant se Durf om anders te wees is ’n uitnodiging aan almal om met onverskrokke oorgawe hul eie pad te volg,” sê Brand.