Mediaverklaring

23 Mei 2024

Van Suid-Afrika se beste jong musikante en sangers het vir die tweede keer die gehoor by die Voortrekkermonument bekoor.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Jeugsimfonieorkes het saam met die Akademia-koor op 22 Mei 2024 ’n spogvertoning in die Heldesaal van die monument gelewer.

“Ons het laasjaar die water getoets en gesien dit werk. ’n Wisselwerking tussen ’n orkes en ’n koor is altyd baie effektief en ’n besonderse kombinasie. Ons is baie trots op hierdie jong mense wat keer op keer presteer,” sê Jaco van Staden, dirigent van die FAK Jeugsimfonieorkes.

Volgens Van Staden is vanjaar ook die eerste keer wat die FAK Jeugsimfonieorkes soliste laat optree as deel van ’n concerto-program.

Dié talentvolle jong dames is Annalou Herman (15) op die dwarsfluit met ’n werk van Mozart en Lisa Boer (17) op die blokfluit met ’n werk van Vivaldi.

Herman is al twee jaar deel van die orkes en ’n gr. 9-leerder van Helpmekaar Kollege.

“Ek is baie opgewonde. Ek geniet dit om saam met ’n orkes te speel, maar ook op my eie. Ek is opgewonde om te wys wat ek kan doen en wat my aandeel is in die orkes,” sê Herman.

Boer het aan die begin van die jaar by die orkes aangesluit om altviool te speel en is trots om haar eerste solo te lewer.

“Ek is nogal op my senuwees. Vanaand sal die eerste keer wees wat ek uit my kop uit speel. Dit is ’n baie goeie geleentheid vir my. Daar is nie baie geleenthede om blokfluit te kan speel nie, so om dit vanaand as ’n solo te kan speel, is ’n groot voorreg,” sê Boer.

Volgens van Staden is die helfte van die Jeugsimfonieorkes nuwe lede van die orkes. “Ons orkes se lede wissel, maar ons het nog nooit gekrimp nie. Inteendeel, ons het nog net gegroei en verbeter.”

Die Akademia-koor het die gehoor behoorlik bekoor met hulle pragtige sangtalent.

Van die werke wat Akademia-koor gesing het, sluit in A Beck deur Kyrie Eleison, Habakuk 3 “Nogtans sal ek jubel”, Jubilate deur P Bezuidenhout en Die Beker deur A van Wyk.

Die Jeugsimfonieorkes het bekende werke deur Mozart en Vivaldi uitgevoer en afgesluit met ’n verwerking van die temalied uit die film Skyfall, wat Van Staden self verwerk het.

“Daar is nog baie waarna die publiek kan uitsien hierdie jaar. Ons gaan aan die begin van Junie deur die Vrystaat toer waar ons in mooi kerke gaan optree,” vertel Van Staden. “Later die jaar het ons weer uitvoerings in die monument en gaan ook saam met ’n Duitse groep optree wat ons kom besoek.”

Jou ondersteuning kan die FAK help om ons kultuur en erfenis verder te bewaar en te bevorder: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/