Die Con Spirito Afrikaans Skoledebat se nasionale finaal het op 23 en 24 September by die pragtige Montpellier de Tulbagh in die Wes-Kaap plaasgevind, waar die land se voorste jong debatteerders byeengekom het om hul taalvernuf, redenasievermoë en debatvaardighede teen mekaar op die proef te stel.
Gedurende die tweedaagse finaal het topdeelnemers uit verskillende streke van Suid-Afrika aan debatte van die hoogste gehalte deelgeneem. Die kompetisie het nie net die uitnemendheid van Afrikaans as debattaal beklemtoon nie, maar ook die buitengewone potensiaal van die volgende geslag taal- en kultuurleiers uitgelig.
Die historiese en skilderagtige omgewing van Tulbagh het die ideale agtergrond gebied vir hierdie hoogtepunt op die debatskalender. Tussen debatrondes deur kon leerders, ouers en ondersteuners die natuurskoon en gasvryheid van die vallei geniet, wat die ervaring des te meer besonders gemaak het.
Volgens Lizelle van Staden, uitvoerende hoof van die Con Spirito Kunsvereniging, bewys die deelnemers dat die toekoms van Afrikaans in goeie hande is.
“Wanneer ’n mens hierdie jongmense hoor redeneer, argumenteer en hul standpunte met soveel selfvertroue verdedig, besef jy dat Afrikaans se toekoms blink is. Die Con Spirito-debat bied aan leerders ’n platform om hul stemme te ontwikkel, krities te dink en met trots in hul moedertaal te kommunikeer. Hierdie finaal was ’n viering van uitnemendheid, karakter en die krag van taal.”
Die deelnemers het deurgaans getoon dat hulle oor die vermoë beskik om die fakkel van Afrikaans oor te neem en verder te bou aan die taal en die kultuur wat daarmee saamgaan. Met goeie taalgebruik, oortuigende argumentasie en merkwaardige selfvertroue het die leerders hul saak gestel en gehore beïndruk met volwassenheid en insig ver bo hul jare.
Die geleentheid het ook die aandag van die media getrek. Die produksiespan van Via TV was teenwoordig om die hoogtepunte van die finaal vas te vang en onderhoude met deelnemers en betrokkenes te voer. Die program wat uit die opnames saamgestel word, sal vanaf 15 Januarie 2027 uitgesaai word en kykers die geleentheid bied om hierdie inspirerende jong debatteerders in aksie te sien.
Die FAK ondersteun reeds vir geruime tyd die Con Spirito-debat as trofee- en prysborg en lewer sodoende ’n waardevolle bydrae tot die voortbestaan en groei van die kompetisie. Hierdie
ondersteuning help om meer leerders toegang te gee tot geleenthede waar hulle hul taal-, redenaar- en leierskapsvaardighede kan ontwikkel.
Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, sê die organisasie beskou die debat as ’n belangrike belegging in die toekoms van Afrikaans.
“Deur debat leer jongmense om verantwoordelike burgers te wees wat met respek kan verskil, krities kan dink en hul standpunte duidelik kan formuleer. Die gehalte van vanjaar se deelnemers was uitmuntend en bevestig dat daar ’n sterk nuwe geslag Afrikaanse denkleiers op pad is. Die FAK is trots om deel te wees van ’n projek wat taal, kultuur en intellektuele groei bevorder.”
Tydens die prysuitdeling is verskeie leerders en skole vir hul uitsonderlike prestasies vereer.
Die FAK-trofee vir die Beste Debatskool is toegeken aan Afrikaanse Hoër Seunskool, terwyl die FAK-trofee vir die Beste Debatspan gewen is deur Dieter de Kock en Paul du Plessis van Paul Roos Gimnasium, wat onder die spannaam Roos Retoriek deelgeneem het. Die span het ook die Hoërskool Seniorafdeling (Graad 10 tot 12) gewen en is beloon met ’n kontantprys van R2 000, lapelbalkies en ’n wisseltrofee.
In die laerskoolafdeling (Graad 6 en 7) het Helena Schabort en René Ferreira van Laerskool Louis Leipoldt die eerste plek behaal. Hulle is bekroon met ’n kontantprys van R750, lapelbalkies, ’n wisseltrofee en ’n boekprys.
Die Hoërskool Juniorafdeling (Graad 8 tot 9) is gewen deur Hardus Ferreira en Peter Ferreira van Afrikaanse Hoër Seunskool, wat as AHS Junior 2 deelgeneem het. Die span het ’n kontantprys van R1 000, lapelbalkies en ’n wisseltrofee ontvang.
Die 2026-nasionale finaal het weereens bewys dat die Con Spirito Afrikaans Skoledebat veel meer as net ’n kompetisie is. Dit is ’n ruimte waar jongmense hul stem ontdek, selfvertroue ontwikkel en toegerus word om betekenisvolle bydraes tot hul gemeenskappe, taal en land te maak.





