Die Voortrekkermonument het onlangs as betekenisvolle agtergrond gedien vir die finale ronde van die Con Spirito Nasionale Debatkompetisie. Leerders van reg oor die land het mekaar op 1 en 2 Oktober die (woorde)stryd aangesê.
Dié kompetisie, wat vanjaar sy vyfde bestaansjaar vier, gaan nie bloot oor wen of verloor nie, maar om die krag van denke, luister en respek by leerders tuis te bring. Volgens Lizelle van Staden, besturende direkteur van Con Spirito, gee die kompetisie aan jongmense die geleentheid om hul eie menings met selfvertroue te vorm en verwoord.
Die Con Spirito Debatkompetisie het sedert 2021 van 67 tot 545 spanne gegroei – ’n merkwaardige 700%-toename wat die groeiende belangstelling in redevoerkuns onder jong Afrikaanse leerders wys.

“Om navorsing te doen, na teenstanders te luister én op jou voete te kan dink, is broodnodige vaardighede wat leerders vir die toekoms toerus,” sê sy. “Die feit dat hulle in Afrikaans kon debatteer, op die historiese Voortrekkermonument-terrein, het dit nog meer spesiaal gemaak.”
Die vlak van deelname was indrukwekkend hoog, sê Van Staden. “Die debatspanne tydens die finale ronde was beslis die room uit ons land se skole.”
Die onderwerpe was uiteenlopend – van die waarde van buitemuurse aktiwiteite in laerskole, tot die plek van Afrikaanse kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf, en selfs die rol van tegniese fokusskole in die toekoms van onderwys.
Ruben Dreyer, ’n graad 10-leerder van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, meen dat die kompetisie elke jaar iets nuuts inhou. “Con Spirito is vanaf die eerste ronde baie interessant en elke jaar vars en nuut. Dit is nie net lekker nie, maar baie leersaam.”
Bjorn Pendelburry, ook ’n graad 10-leerder van Affies, waardeer die feit dat kompetisies soos dié ’n mens uitdaag om op jou voete te dink en met die beste moontlike antwoord vorendag te kom. “Jy moet mooi luister, dink en jouself dan op die beste moontlike manier uitdruk.”

Tydens die prysuitdeling op 2 Oktober het die spanne, afrigters en ondersteuners vroeg reeds gereed gesit om te hoor wie vanjaar koning gekraai het. “Elke leerder het ook ’n spesiale geskenkpakkie ontvang ter viering van die 5 jaar-mylpaal van die kompetisie.”
In die laerskole-afdeling (graad 6 tot 7) het Laerskool Anton van Wouw se span, bestaande uit Emmi-Faye Butler en Johan Vorster, die eerste plek verower. Nog ’n Wouwtjies-span, met Theodore van Diemen en Levi Lombard aan die woord, het tweede geëindig, terwyl Laerskool Rynfield se Carmi Kruger en Hein Hoffmann die derde plek verower het.
In die hoërskoolafdeling het die junior span (graad 8 tot 9) van Paul Roos Gimnasium, bestaande uit Lian Winckler en Retief Ferreira, met die louere weggestap. Hoërskool Witteberg se Heilene Meintjes en Gerhardt Nel was tweede, met die Afrikaanse Hoër Seunskool se Peter Ferreira en Hardus Ferreira in die derde plek.
In die senior afdeling (graad 10 tot 12) het Martin van der Schyff en Juhann Krog van Hoërskool Rustenburg die trofee as nasionale wenners ontvang, terwyl Nina Dicks en Clara Serfontein van Hoërskool Menlopark tweede geëindig het. Kiki Butler en Sandy Prinsloo van die Afrikaanse Hoër Meisieskool was derde.
’n Spesiale FAK-wisseltrofee is ook vanjaar aan die beste span in die nasionale finale ronde oorhandig. Dit het kroon gespan op die jong redenaars se harde werk, vasberadenheid en prestasie.
Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, het die belangrikheid van kompetisies soos Con Spirito benadruk: “Dit is vir die FAK ’n groot voorreg om ons deurlopende verbintenis met Con Spirito in stand te hou, en boonop die finaal hier by die Monument te kon aanbied.
“In ’n tyd waarin kunsmatige intelligensie op almal se lippe én vingerpunte is, bestaan die gevaar dat vrye denke gekniehalter kan word. Daarom beskou die FAK iets soos debatvoering as ’n kritieke vaardigheid om jongmense aan te moedig om op hul voete te kan dink en hul saak vir of teen iets te kan stel.”
