In ’n tyd waar Afrikanergeskiedenis in skoolsillabusse op die agtergrond geskuif word, slaag die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) uitnemend daarin om jong Suid-Afrikaners se belangstelling in hul verlede te prikkel. Meer as 1 000 leerders van 54 skole landwyd het vanjaar aan die FAK se nasionale Geskiedenisolimpiade deelgeneem – ’n indrukwekkende bewys dat die liefde vir geskiedenis onder Afrikaanse kinders springlewendig is.

Vanjaar het die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys (BCVO) en Akademia met die FAK hande gevat om die olimpiade aan te bied – ’n samewerking wat die impak van die projek aansienlik vergroot het.

Daniel de Bruin, ’n graad 4-leerling van Laerskool Middelburg, is as die nasionale wenner van die laerskoolafdeling aangewys en Nicole White, ’n graad 11-leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria is as die hoërskool-, en die algehele wenner aangewys.

Hoewel De Bruin se geskiedenispunt altyd bo 90% is, was hierdie toekenning vir hom ’n verrassing. “Ek kon nie glo dat ek gewen het nie,” sê hy. Sy kennis en liefde vir geskiedenis kom van sy oupa Danie af, wat vir hom verskeie verhale vertel het en hy lees ook so nou en dan ’n geskiedenisboek, vertel De Bruin.

White sê haar liefde vir geskiedenis is aangevuur deur haar ouers wat haar geleer het om vrae te vra en die verlede onder ’n soeklig te plaas. “Dit het begin met ’n sloertoer deur die Verenigde State van Amerika en Europa wat eeue se ryk geskiedenis het,” sê sy. “Maar ons Suid-Afrikaanse geskiedenis lê my die naaste aan die hart. Die besoeke aan die slagvelde in die Drakensberge en Bloedrivier en die uitklim van Majuba saam met my pa het vir my soveel meer beteken en soveel meer deernis vir my volk se deursettingsvermoë gegee.”

Reis deur die geskiedenis

Die FAK-Geskiedenisolimpiade, wat vanjaar vir die sesde keer aangebied is, is uniek en bied aan laer- en hoërskoolleerders die geleentheid om die diepte en rykdom van die Afrikaner se geskiedenis deur middel van boeiende temas te verken. Elke ouderdomsgroep kry toepaslike temas – van die vestiging aan die Kaap, die Groot Trek, die ontdekking van goud, die Rebellie, die stigting van die twee Boererepublieke, die Anglo-Boereoorlog en die tydperk daarna, en die wêreldoorloë.

Volgens die organiseerders is die doel nie bloot om feite te memoriseer nie, maar om jongmense aan ’n breër begrip van hul identiteit te help bou.

“Wanneer ’n leerder in graad 4 aan die Geskiedenisolimpiade begin deelneem, begin hy of sy ’n reis wat jaar ná jaar voortbou,” verduidelik Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK. “Teen die tyd wat hierdie leerders matriek bereik, het hulle nie net ’n deeglike begrip van die Afrikanergeskiedenis nie, maar ook die insig om die groter prentjie aanmekaar te sit – soos om ’n legkaart oor die jare te bou.”

“In ’n tyd waar kulturele identiteit dikwels onder druk is, bied die FAK-Geskiedenisolimpiade aan Afrikaanse kinders die geleentheid om trots te wees op hul erfenis en om te verstaan dat hul geskiedenis ’n geldige en waardevolle plek in Suid-Afrika se groter verhaal inneem,” sê hy.

“Geskiedenis is nie net iets wat in boeke opgesluit lê nie – dit is ’n lewende deel van wie ons is,” sê Müller. “Wanneer kinders leer waar hulle vandaan kom, verstaan hulle beter wie hulle is, en waarheen hulle op pad is. Dit gee hulle moed, trots en identiteit.”

Kans om te leer én te wen

Deelname aan die aanlyn olimpiade is gratis. “Dis nie net ’n kompetisie nie, maar ’n opvoedkundige avontuur,” sê Müller. “Kinders leer oor hulle voorouers, die opofferings wat gemaak is, en hoe hierdie verhale bygedra het tot ons bestaansreg. Ons is erfgename van ’n geskiedenis wat met bloed, geloof en volharding geskryf is.”

Benewens die opvoedkundige waarde, word daar ook groot pryse aan die wenners in elke ouderdomsgroep toegeken. Maar, soos die FAK sê, “die grootste prys is die kennis self – om te ontdek wie jy is.”

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) is baie trots op hul algehele wenner en Colleen Naude, bemarkings- en skakelbeampte van dié tradisieryke skool, beklemtoon dat die kennis van geskiedenis baie waardevol is. “Ons is baie trots op Nicole. Haar sukses in die FAK-Geskiedenisolimpiade herinner ons ook daaraan hoe waardevol die vak Geskiedenis in skole is om begrip, kritiese denke en kennis van ons verlede te kweek en bevorder,” sê sy.

Die FAK is reeds besig met voorbereidings vir volgende jaar se Geskiedenisolimpiade. Inskrywings open op 2 Februarie, en Müller belowe dat dit ’n jaar soos nog nooit tevore sal wees.

Met die groeiende deelname van skole, die ondersteuning van organisasies soos die BCVO en Akademia, en die FAK se voortgesette toewyding aan kultuurerfenis, is die boodskap duidelik: Afrikaanse geskiedenis leef voort in die harte van sy jongste geslag.