Mediaverklaring

3 Mei 2024

Die bekende sanger Stefan Jansen het vandag op ’n baie unieke manier hulde gebring aan die skrywer van een van die mees bekende liedjies in Suid-Afrika se geskiedenis.

Vandag, 3 Mei 2024, is dit presies 94 jaar sedert die skrywer van een van Afrikaans se bekendste liefdesliedjies gesterf het.

Jansen het saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Jopie Toerien se graf besoek om “Sarie Marais” daar te sing.

“‘Sarie Marais’ is een van my gunstelingliedjies om te sing. Ek het nie geweet hierdie liedjie is eintlik ’n ware verhaal nie; dat die Mooirivier in Potchefstroom is waar hulle gebly het en dat sy graf hier in Middelburg lê nie,” vertel Jansen.

Jopie Toerien was tydens die Anglo-Boereoorlog met Sarie Maré getroud. Dié paartjie het op 16-jarige ouderdom ontmoet en van daar af het hul liefde net geblom. Toerien se grootste vrees was om sy Sarie nooit weer te sien nie, sou hy in die oorlog sneuwel of in ’n Britse kamp vergaan.

Min het hy geweet dat sy verlange na sy Sarie een van Afrikaanse se mooiste en bekendste volksliedjies sou word. Die eerste strofe en koor van die lied lui:

My Sarie Marais is so ver van my hart,

Maar’k hoop om haar weer te sien.

Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,

Nog voor die oorlog het begin.

Koor:

O bring my terug na die ou Transvaal,

Daar waar my Sarie woon.

Daar onder in die mielies

By die groen doringboom,

Daar woon my Sarie Marais.

Jansen vertel dat hy hierdie liedjie van sy universiteitsdae af al sing. Dit is eers toe hy dié lied in Nederland sing, dat hy besef hoe bekend die liedjie ook onder die Nederlanders is.

“Ek het hier in Middelburg gematrikuleer en ek toer op die oomblik so baie deur Nederland. Ek het geen idee gehad dat daar ’n goue konneksie is tussen een van my tuisdorpe en die plek waar ek die grootste besigheid doen op die oomblik nie. En dit is alles hierdie liedjie ‘Sarie Marais’,” vertel Jansen.

Op Toerien se graf staan daar geskryf: skrywer van Sarie Marais. Jansen het langs die graf gaan staan met sy kitaar en die liedjie as ’n huldeblyk aan Toerien gesing.

“Ek is sommer nostalgies op die mooiste manier. Dit is vir my pragtig hoe sulke eenvoudige liedjies soos Sarie Marais, sulke diep en ryk geskiedenis het. Dit is lekker om mense van my ouderdom en jonger te herinner hoe relevant daardie liedjies eintlik nou nog is,” sê Jansen.

Vir diegene wat wonder of hierdie liefdesverhaal ’n gelukkige einde het, Jopie Toerien en sy Sarie het saam oud geword en is maar drie jaar uitmekaar oorlede. Elke keer as iemand “Sarie Marais” sing, leef hulle liefde voort.

Sulke unieke projekte is slegs moontlik deur die ondersteuning van die gemeenskap. Jy kan die FAK ondersteun om nog sulke unieke geleenthede moontlik te maak. Klik op hierdie skakel: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/